AfriForum Jeug in Vryburg hou #JyIsKoel-roomyseetkompetisie


Ongeveer 25 leerders en 10 volwassenes het op Saterdag 23 Februarie 2019 aan AfriForum Jeug se #JyIsKoel-roomyseetkompetisie in Vryburg deelgeneem. Elke deelnemer moes drie houertjies soliede draairoomys van 175 ml elk en ’n ekstra houertjie roomys met malvalekkers verorber. Die dapper deelnemers moes breinvries trotseer en plastieklepels vir hul hande verruil om binne die gegewe ses minute klaar te wees.

AfriForum se Vryburg-tak bedank graag vir Water 4 Us vir die 5 liter roomys en gebruik van hul koelkamers, Normans Chatz Connect vir die Bluethooth-luidsprekers as pryse vir die laerskool- en hoërskoolwenners, en Pisa Pizza vir ’n geskenkbewys as prys vir die volwassene wenner.

“Dit was ’n heerlike oggend wat baie belangstelling gewek het – volwassenes en kinders het entoesiasties betrokke geraak en is opgewonde oor ander groot aksies wat vir Vryburg beplan word. Die tak beoog om die dorp saam met die jeug op te knap, sodat almal weer trots op Vryburg kan wees,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Buiten vir die pret, is almal ook bewus gemaak van wat AfriForum Jeug in Vryburg verder vir 2019 beplan. AfriForum Jeug se missie berus op Christelike beginsels en om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder. Enigiemand jonger as 35 jaar oud kan registreer om by AfriForum Jeug betrokke te raak; skakel vir J.P. (Prieur) Cloete by 083 703 6347.

Soortgelyke plasings