|

AfriForum Jeug vier tiende bestaansjaar

“Ons as AfriForum Jeug aanvaar vandag die verantwoordelikheid om ’n Afrikaner-herlewing daar te stel.”

Só het Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, vandag by die burgerregtewaghond se derde kongres gesê.

Die jeugvleuel vier vanjaar sy tiende bestaansjaar en het tans 60 dorps- en kampusstrukture landwyd.

Maree het van die groep se hoogtepunte gedeel, insluitend aktivistiese aksies teen diskriminasie en optogte vir die behoud van Afrikaans op kampusse.

AfriForum Jeug het ook hul nuwe logo bekendgestel en hoewel die groep ’n nuwe rigting inslaan, bly hul mikpunt dieselfde, naamlik om ’n  gesonde bymekaarkomplek te skep vir jong Afrikaners, ’n spreekbuis vir jong Afrikaners te wees, jong mense te bemagtig en Afrikaans en Afrikanertradisies uit te bou.

Verder gaan hul ook aanhou om jaarliks hul kampe, internskappe en staptoere uit te bou.

“Jong Afrikaners voel deesdae by soveel plekke vervreem en ons moet daardie tuiste skep waar hulle welkom voel.  Ons wil hulle leer om nie skaam te wees oor hul taal of herkoms nie.

“AfriForum Jeug is op die drumpel van groot dinge. Die jeug van vandag is nie sleg nie, net uiters oningelig en ons wil hulle inlig en bemagtig oor hul regte,” meen Maree.

In ’n terugblik video oor die jeugvleuel, het Charl Oberholzer, voormalige hoof van AfriForum Jeug, gesê dat die groep se uitdaging vir die toekoms is om aan te pas, maar steeds hul wortels te behou en dieper te laat skiet.

Soortgelyke plasings