|

AfriForum Jeug veg vir Afrikaans as onderrigtaal met #RedAfrikaans

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug het vandag sy #RedAfrikaans-veldtog se vyfpuntplan vir Afrikaanse universiteite bekengestel om Afrikaans as onderrigtaal te behou en bevorder.

Dit kom nadat verskeie kampusse in 2015 onder leiding van studente-organisasies soos OpenStellenbosch, ReformPuk en UpRising betogings gehad het onder die #feesmustfall-aksie asook ander  transformasiegedrewe veldtogte. Vanjaar ervaar verskeie universiteitskampusse steeds verskerpte aanslae teen Afrikaans as onderrigtaal.

Morné Mostert, nasionale koördineerder van AfriForum Jeug, het gesê dat ander politieke ideale nagejaag is met die #Feesmustfall-veldtogte. “Hierdie optrede van studente het daartoe gelei dat klasse op verskeie kampusse gekanselleer is en eksamens uitgestel moes word toe ander studente uit klaskamers verwyder en van die kampusse gejaag is.”

Hy het gesê die optrede het daartoe gelei dat Afrikaans en Afrikaanse studente “politiese slaansakke” geword het vir ekstreme politiese studentebewegings.

AfriForum Jeug se vyfpuntpunt plan behels dat:

  1. Klasgelde teruggehou word tot Junie

Ian Cameron, nasionale woordvoerder van AfriForum Jeug, verduidelik dat studente nie studiegelde moet boikot nie. Hulle moet egter in ruil vir klasgelde onderrig ontvang in die beloofte onderrigtaal. “Ons sien te veel dat universiteite soos UP hulself bemark as ‘n Afrikaanse universiteit, maar nie noodwendig vir studente kan verseker dat hulle klas in hul moedertaal sal ontvang nie.”

  1. Dat sterk studente strukture gevestig word op kampusse

AfriForum Jeug het studentetakke by verskeie universiteitskampusse en is van mening dat studente ingelig moet en moet verstaan wanneer hul grondwetlike regte ontneem word. AfriForum Jeug takke gaan dus dien as klagtekanale en terselfdetyd opleiding en inligtingsessies aanbied vir studente.

  1. Mobilisering ter verdediging van Afrikaans

AfriForum Jeug moedig studente aan om hul klasse by te woon en indien hulle deur politiese partye of protesgroepe aangeval word, sal AfriForum Jeug bystand lewer. “Ons moedig studente aan om hulself te verdedig, maar staan enige vorm van geweld teen.”

  1. Aktivisme

AfriForum Jeug sal aktivistiese aksies loods om onregmatighede van die universiteite te ontbloot en om te dien as kommunikasie-meganismes om inligting rondom ongerymdhede te beklemtoon. “Ons kan nie meer toelaat dat universiteitsbesture slegs diskriminerende politieke ideale najaag nie,” het Mostert gesê.

  1. Regsaksies teen universiteite

AfriForum Jeug het reeds met regstappe teen die Universiteit van Stellenbosch se uitvoerende bestuur begin nadat dit onder die aandag van die organisasie gekom het dat minstens twee van die universiteit se fakulteite besluit het om af te wyk van die taalbeleid van die US soos deur die universiteitsraad en senaat bepaal is.

Spotprent #RedAfrikaans
Spotprent #RedAfrikaans

AfriForum Jeug het tydens die nuuskonferensie beeldmateriaal gewys van prof. Wim de Villiers, rektor van die US, waarin hy die versekering gee dat daar ’n plek vir ander tale is by die US. “Taal moet nooit ’n hindernis wees vir enige student nie, daarom brei ons uit en voorsien ons aparte Engelse en Afrikaanse klasse vir studente. Deur Engels as onderrigtaal te gebruik, maak ons onsself meer toegangklik vir ander mense, maar daar is ’n groot behoefte vir Afrikaans,” het De Villiers gesê.

“Die US se optrede ontneem nie net studente van hul grondwetlike regte nie, maar beteken ook dat die US nie hul eie taalbeleid volg nie,” het Cameron gesê.

AfriForum Jeug het ook verduidelik dat die vyfpuntpunt ’n dubbele strategie het wat poog om met universiteite en die regering saam te werk. “Ons besef daar is sekere insette waarvoor ons self verandwoordelik is, maar ons wil graag met universiteite en die regering werk om hierdie probleme op te los.”

Cameron het beklemtoon dat alle tale en kulture bevorder moet word in Suid-Afrika.

Hy het ook gesê dat Afrikaans reeds goed ontwikkel is as ’n akademiese taal en dat ander tale ook bevorder moet word. “Daar moet meer gefokus word op die bevordering van ander tale as bloot net die afbreek van een en spesifiek Afrikaans.”

 

 

 

Soortgelyke plasings