|

AfriForum Jeug toer om erfenis te ontdek en leierskap te ontgin

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Lede van AfriForum Jeug het sy jaarlikse nasionale leierskapontwikkelingstoer vandag in Pretoria afgeskop.

Sowat twintig studente van verskeie AfriForum Jeug-universiteitstakke, wat NWU-Pukke, Tukkies, Kovsies asook Maties insluit, het bymekaar gekom en gaan vanjaar saam toer.

Marike van As, ’n koördineerdeer van die toer, sê die jeugtoer het drie hoofdoelwitte naamlik om vriendskappe te bou, kameraadskap tussen takke te versterk asook leierskapsontwikkeling. “Ons wil die jeug oplei om terug te keer na hul onderskeie kampusse waar hulle gedrewe en trots kan wees op hul erfenis en kultuur asook om lewenslange vriendskappe te bou.”

Vanjaar se tema vir die toer is “Die Groot Trek” en gaan studente deur Pretoria, Bloemfontein, verskeie dele van KwaZulu-Natal asook Orania neem. Hulle gaan ook die geleentheid kry om ’n selfdoenaksie by die erfenisterrein van Bloedrivier te doen. “Dit is belangrik vir ons as AfriForum om trots by die jeug te kweek oor hul erfenis en kultuur, daarom wil ons hulle ook leer en aanmoedig om dit te help bewaar waar die regering nie sy pligte nakom nie.”

Die toer het vandag begin met inligtingsessies deur verskeie rolspelers en hoofde van AfriForum, asook ’n toer van die hoofkantoor en sy verskillende afdelings.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die groep aangemoedig om met energie ’n verskil te maak op hul onderskeie kampusse en gemeenskappe. “Ons is gewone mense wat ’n verskil wil maak en ’n toekoms wil verseker vir Afrikaners in ons land en wil die jeug aanmoedig om dieselfde te doen.”

Hy het ook klem geplaas op die feit dat AfriForum doeners is en nie slagoffers van die geskiedenis hoef te wees nie. “Ons het nie meer groot Afrikaanse staatsleiers nodig nie, maar eerder ’n netwerk van duisende gewone leiers wat deur klein aksies groot verskille kan maak.”

C’Monè Schoeman, ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, sê dat sy graag meer oor Afrikaanse geskiedenis wil leer op hierdie toer. “Ek voel dat daar baie is wat ons nie weet van ons eie kultuur, taal en erfenis nie. Ek wil mense aanmoedig om deel te word van AfriForum Jeug om sodoende die geleentheid te kry om meer oor Afrikaans te leer en trots daarvoor te veg.”

Sy het voorts gesê dat so ’n toer die geleentheid gee vir verskillende takke om by mekaar te leer en nuwe idees uit te ruil vir die pad vorentoe.

Ernst Marais van AfriForum Jeug se Tukkies-tak sê dat hy die meeste uitsien om erfenisterreine te besoek saam met mense wat sy erfenis en kultuur deel. “Dit is vir my opwindend om leierskapsvaardighede te ontwikkel, vriende te maak en deel te word van iets groter om ’n verskil te probeer maak.”

Van die erfenisterreine wat die groep gaan besoek, sluit in Majuba-slagveld en die Vrouemonument in Bloemfontein in.

Die toer eindig 11 Oktober.

Soortgelyke plasings