|

AfriForum Jeug steun protesoptog by Maties

AfriForum Jeug gaan Dinsdag aan ’n studente-protesoptog by die Universiteit van Stellenbosch (US) ter ondersteuning van ’n ordelike kampus deelneem.

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die optog spruit voort uit die onlangse omstrede optrede deur die groep OpenStellenbosch.

Die groep het ’n eensydige video met talle bewerings van rassisme by Maties met die tema Luister versprei.

Maree het gesê AfriForum Jeug maak beswaar teen die bewerings van OpenStellenbosch en hulle talle eise vir versnelde transformasie op die kampus.

“Ons glo Afrikaans mag nie die slagoffer van transformasie wees nie. Ons steun nie die huidige toepassing van transformasie nie, maar meen wel prof. Wim De Villiers moet die geleentheid gegee word om homself as rektor te bewys aangesien hy nog nuut in sy pos is.”

Volgens Maree is AfriForum Jeug ook ten gunste van gesprekvoering om oplossing vir probleme te vind. “Die onlangse gewelddadige betogings by kampusse kan nie goed gepraat word nie.

“Dit is ook in die lig daarvan dat AfriForum Jeug ’n 10-punt nasionale voorkomingsplan bekend gestel het.”

Hierdie plan behels onder meer selfverdedigingsopleiding vir studente en gesprekvoering met universiteitsowerhede om veilige omstandighede vir studente op kampusse te verseker.

’n Gesprek in dié verband vind Woensdag met die bestuur van die US plaas.

Lees hier die 10-punt Voorkomingsplan vir kampusse: AfriForum Jeug – Voorkomingsplan – Afr

 

Soortgelyke plasings