|

AfriForum Jeug se Maties-tak dring aan op SR se finansiële en termynverslae

AfriForum Jeug se Maties-tak het op 12 Augustus 2019 en weer op 26 Augustus 2019 ’n e-pos aan die Universiteit Stellenbosch (US) se studenteraad gestuur waarin die 2018/2019-termyn se finansiële en termynverslae na regte, soos bepaal deur die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000), aangevra word. Hierdie versoek is gerig nadat die vorige termyn se verslae ondersoek is nadat roekelose, sinnelose en twyfelagtige transaksies plaasgevind het. Die studenteraad het egter versuim om op enige van die twee e-posse te reageer.

“Die Universiteit Stellenbosch se studenteraad het in 2018 hul reusebegroting, met ’n beginsaldo van oor die R2 miljoen, bykans net op politieke propaganda bestee. Dít terwyl daar aan studente gesê word dat tweetalige onderrig te duur is, studente sonder handboeke sit weens finansiële druk, en studente hul studies moet opskort weens ’n tekort aan geld. Die US-studenteraad is besig om studente ’n groot onreg aan te doen,” sê Juandré de Bruyn, voorsitter van AfriForum Jeug se Maties-tak.

Luidens ’n e-pos wat die studenteraad op 13 Augustus 2018 aan studente gestuur het, is daar tydens daardie termyn onder meer vir die volgende begroot:

  • White Privilege event – R3 950
  • Israel Apartheid week – R3 000
  • LesBiGay closing function – R6 500
  • LGBTQI+ awareness – R9 000
  • Womxn march & movie screening – R3 650
  • Womxn in Leadership brunch – R6 500
  • Womxn movie and panel discussion – R7 200
  • Womxn opening and closing function – R11 700
  • Womxn poetry – R4 400.

Die totale bedrae vir verskillende portefeuljes lyk soos volg: Womxn Empowerment – R36 800, transformasie – R36 000 en Consciousness & Sexuality – R41 450.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat studente, veral diegene wat ’n beurs geweier is weens identiteitspolitiek, derduisende rande elke jaar moet opdok om propaganda wat teen hulle gemik is, te befonds. Hierdie onsinnigheid geskied terwyl slegs R6 000 aan vertaaldienste en slegs R8 000 aan noodhulpopleiding bestee is. Ons as AfriForum Jeug by Maties wil graag sien dat hierdie geld eerder aan werklike studentebehoeftes bestee word.”

AfriForum Jeug dring daarom aan op die jongste verslae om seker te maak dat studentegelde vir die regte redes aangewend word. AfriForum Jeug versoek ook dat meer geld bestee word aan veiligheid, hulpfondse, studiebeurse en die bevordering van moedertaalonderrig. Verder versoek AfriForum Jeug ook dat alle geld wat begroot word vir propaganda wat die meerderheid studente uitsluit, gesny word om studiekostes te verlaag.

“Finansies moet aangewend word om soveel moontlik studente toegang tot onderwys te gee in plaas daarvan om enkele leiersfigure op kampus se politieke agenda te befonds.”

Soortgelyke plasings