|

AfriForum Jeug sal aanhou baklei vir Afrikaans by landboukolleges

Twee van die enigste oorblywende Afrikaanse landboukolleges in die land is in die spervuur weens regeringsdruk om dit heeltemal te verengels.Taalstorms woed sedert die begin van die jaar by die Grootfontein-landboukollege in Middelburg in die Oos-kaap en die Elsenburg-kollege buite Stellenbosch.

By Grootfontein het die departement van landbou, bosbou en visserye reeds aangekondig dat die taalbeleid vanaf 2016 uitsluitlik Engels moet wees. Die kollege het ’n ryk opleidingsgeskiedenis en is meer as 100 jaar oud.

Eduan Dupper, ondervoorsitter van AfriForum Jeug, sê die organisasie gaan die voorstelle ten sterkste teenstaan. “Ons het herhaaldelik ’n vergadering met die departement versoek sodat oplossings vir die dispuut gevind kan word.

“Tydens een vergadering, wat bygewoon is deur verskeie belangegroepe waaronder boere, verteenwoordigers van landbouverenigings, studente, amptenare en dosente is ons nasionale voorsitter uitgejaag weens druk van ’n klein radikale groep studente wat bestuur voorgeskryf het.”

Volgens Dupper is meer as die helfte van die sowat 200 studente Afrikaanssprekend en lid van AfriForum. “Ons word oorval met versoeke van studente en bekommerde ouers oor die toedrag van sake. Ons het intussen begin om regsadvies in te win om te kyk hoe die saak beredder kan word.”

Dupper het gesê die feit dat rasse-teikens vir dosente gestel word, wat gevolglik glo nie Afrikaans magtig is nie, benadeel studente se reg tot moedertaalonderrig. “Dit kan nie as verskoning gebruik word nie en hierdie is bewys van die negatiewe gevolge van sogenaamde transformasie.”

Garry Francis, ’n voormalige student wat van 2012 – 2014 by Grootfontein gestudeer het, het gesê “as sake op die trant voortgaan, is die einde van die kollege in sig”.

Francis het gesê talle Afrikaanse skoolverlaters wat landbou wou studeer, gaan nou nie meer na die kolleges nie. “Hulle gaan werk deesdae eerder op saai- en beesplase in Amerika om ondervinding op te doen. Die probleem hiermee is dat landboukennis verlore gaan en die landbou in geheel daardeur benadeel word.”

Nog ’n negatiewe gevolg is dat die akademiese landboutaal wat oor dekades gevestig is, nou in gedrang is, meen Francis.

In die geval van Elsenburg was daar einde verlede maand oproer nadat 14 swart studente kapsie teen onderrig in Afrikaans gemaak het.

Henk Maree, voorsitter van die AfriForum Jeug, het gesê die meerderheid studente wat Afrikaans is by die kollege én wil studeer, se regte is misken.

Op dieselfde dag wat die klein minderheid klasse ontwrig en op mede-studente geskreeu het, het die departement van landbou, bosbou en visserye ’n taalbeleid van uitsluitlik Engels aangekondig.

Dít nadat daar vroeër op ’n 50/50-taalbeleid ooreenkom is.

Afrikaanse studente het aan Forum Nuus gesê die kollege en departement se optrede is onaanvaarbaar aangesien hulle by die kollege ingeskryf het met die verstandhouding dat daar onderrig in Afrikaans en Engels is.

Kort nadat AfriForum kapsie gemaak het, is die Engelse taalbeleid weer deur die departement herroep.

“Ons hou die departement fyn dop en indien hulle van enige voorneme is om die taalbeleid weer eensydig te verander, sal ons na verdere ingryping kyk,” het Maree gesê.

 

Soortgelyke plasings