|

AfriForum Jeug pak ook selfdoen-projek aan tydens nasionale jeugtoer

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug het vandag in KwaZulu-Natal óók deelgeneem aan die burgerregte-organisasie se 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog tydens hul nasionale leierskapsontwikkelingstoer.

Sowat 20 studente van verskeie AfriForum Jeug-universiteitstakke is vandeesweek op ‘n nasionale jeugtoer en het vandag die erfenisterrein van Die Slag van Bloedrivier, wat tussen Dundee en Vryheid geleë is, besoek. Díe erfenisterrein bevat verskeie besienswaardighede wat ’n museum, granietwa-monument asook ’n unieke brons-walaer insluit.

Die jeuggroep het hul moue opgerol en hulp aangebied om as deel van AfriForum se aktivistiese selfdoen-veldtog, die walaer-monument op te knap deur die heining van die laer te verf asook om die brons dele skoon te maak.

Marike van As, ’n koördineerder van die jeugtoer, sê dat AfriForum vir jongmense die geleentheid wil gee om eienaarskap te neem van hul erfenis. “Besoeke na erfenisgebiede, veral een so bekend soos die van Bloedrivier, is fisiese bewyse van ons geskiedenis en ons hoop dat jongmense trots sal wees daarop en erfenisgebiede sal help bewaar.”

Die brons-walaer is in 1971 op die plek waar die oorspronklike laer van die Voortrekkers gestaan het, opgerig en op 16 Desember van dieselfde jaar onthul. Die waens rus op betonfondamente en is van gegote staal vervaardig en met brons oorgeblaas. Elke wa is ook identities gemodelleer na die voorbeeld van die “Johanna van der Merwe-eufeesgedenkwa”.

Charné de Ru, ’n student van die Noordwes-universiteit in Potchefstroom, het onlangs by AfriForum Jeug aangesluit en sê dat sy trots is om deel te wees daarvan. “Dit is lekker om deel te wees van ‘n groep en organisasie soos AfriForum wat bereid is om in te spring te en te help om ons erfenis en kultuur te bewaar.”Sy het voorts gesê dat sy dink dat dit belangrik is vir die jeug om ook deel te wees van selfdoen-aksies, omdat hulle ’n voorbeeld moet wees en hul erfenis moet bewaar vir die pad vorentoe.

Clifford de Vries, ook ‘n student aan NWU, wat geskiedenis as ‘n vak op universiteit neem, sê dat hy die geskiedenis van die Voortrekkers nou anders beleef en dat hy baie geleer het. “Dit is anders om so ‘n terrein te kan besoek en te ervaar, eerder as om net na foto’s te kyk.’

Volgens Clifford laat dit hom ’n gevoel van trots ervaar. “Dit sal my altyd bybly. Dit is uiters belangrik dat ons as die jeug ’n bydrae lewer om ons kultuur en erfenis te bewaar, aangesien niemand anders dit vir ons gaan doen nie.”

Soortgelyke plasings