|

AfriForum Jeug maak vordering met kampus-veiligheidsplan

 

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug het sy nasionale voorkomingsplan vir kampus- sekuriteit sowat twee weke gelede bekend gestel en dit begin reeds vrugte afwerp.

Verteenwoordigers van AfriForum Jeug het verlede week met verskeie universiteite se besture en sekuriteit ontmoet om hul planne vir kampus-sekuriteit te bespreek om sodoende studente se veiligheid in die toekoms te kan verseker.

Eduan Dupper, AfriForum Jeug se nasionale ondervoorsitter het suksesvolle gesprekke gevoer met verskeie bestuurslede van die Universiteit van Stellenbosch (US) onder wie dr. H. Ludolph Botha,  senior direkteur van studentsake,  Viljoen van der Walt, direkteur van risikobestuur en kampus-sekuriteit. “Die universiteit se bestuur en sekuriteit werk tans met die munisipaliteit en polisie saam en het voorsiening gemaak om protesaksies en optogte by die universiteit te beheer,” het Dupper gesê.

Hy het ook met Marius Paulse, kampushoof van die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch, ontmoet.

Volgens Dupper gaan die kollege ’n sterk poging aanwend om sekuriteit op dié kampus te verbeter na verskeie gewelddadige protesaksies die afgelope tyd.

Geweld het op Elsenburg uitgebreek waartydens sommige studente met sambokke en swepe aangerand is. Afrikaans as onderrigmedium is aanvanklik as rede vir die oproer aangevoer, maar dit het later geblyk eerder rassekwessies te wees.

Dupper het gesê verskeie sekuriteitskameras en tydelike sekuriteitshekke is geïnstalleer en die bestuur is bewus van die klem wat geplaas moet word op veiligheid, veral wanneer optogte plaasvind.

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug het gesê  briewe is ook gestuur aan dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en vissery, om dringend aandag aan protesoptogte op kampusse te gee. Hulle het nie hierop gereageer nie.

Luidens mediaberigte het verskeie universiteite aangedui dat hulle nie in AfriForum Jeug se voorkomingsplan belangstel nie.

Maree meen egter dat dié kampusse ongelig was en wel ingestem het om met AfriForum Jeug hieroor te vergader. “In teenstelling met sommige mediaberigte, kom ons voorkomigsplan nie neer op ’n militaristiese oorname van universiteite nie, maar is dit eerder ’n dringende versoek tot universiteite om vir hul studente ’n veilige kampusomgewing te verseker.”

Hy het bygevoeg dat AfriForum nie kampus-sekuriteit wil vervang of oorneem nie en dat die hoofdoel is om studente se reg tot veiligheid te verseker.

Maree en Dupper het albei gesê dat die universiteite met wie hulle tot dusver ontmoet het, bewyse gelewer het dat hulle prosesse in plek het en voorbereid is vir potensiële geweld of optogte op hul kampusse. Terugvoer van ander kampusse soos die Universiteit van Pretoria (UP)  en die Noordwes-universiteit (NWU), word vandeesweek verwag.

AfriForum Jeug het ook tydens hul besoeke vir verskeie jeugtakke se nuwe takbesture informele opleiding aangebied, wat basiese administratiewe prosesse en media-opleiding insluit.

Dupper het gesê transformasie en die geweldige, konstante druk op Afrikaans as onderrigtaal gaan in die komende jaar ’n baie groot uitdaging vir die nuwe takke wees. “Ons gaan verseker dat AfriForum Jeug steeds op ’n intellektuele en regverdige manier gaan optree teenoor ander radikale politieke groeperinge op universiteitskampusse in die land.”

Maree het bygevoeg dat AfriForum Jeug wil groei as ’n selfstandige bymekaarkomplek vir studente wat wil opstaan vir hul taal en kultuur en dat die protesaksies en geweld wat op kampusse plaasgevind het hulle nie moet ontmoedig nie. “AfriForum Jeug is daar om studente te ondersteun, te beskerm en in te lig oor hul regte op kampus en ons hoop om op die suksesse van die jaar voort te bou.”

AfriForum Jeug het na afloop van die jeuggroep OpenStellenbosch se onlangse video-aanval op Afrikaans en wit studente self met die vervaardiging van ’n video begin om sekere kwessies in perspektief te stel. OpenStellenbsoch het in hul video (#Luister) uitgevaar teen gebrek aan transformasie en die gebruik van Afrikaanse op Maties. AfriForum Jeug wil met sy video ’n ander perspektief oor Afrikaans as onderrigtaal bied. Dit word binnekort bekend gestel.

Soortgelyke plasings