|

AfriForum Jeug leer studente om selfverdediging toe te pas

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug het vandeesweek gratis klasse in selfverdediging vir vroue-studente by die Universiteit van Pretoria aangebied.

Die Tuks Jeugtak se inisiatief is daarop gemik om jong meisies toe te rus en te bemagtig om hulself in onveilige situasies te kan beskerm.

Rochelle Oosthuyse, wat deel is van die nasionale bestuur van AfriForum Jeug, het gesê  vroue is maklike teikens vir misdaad. “In die gees van vrouwees wat vandeesmaand gevier word, wou ek iets saam met die jeug reel wat meisies die nodige vaardighede kan leer om hulself te beskerm in gevaarlike situasies.”

Oosthuyse meen die groeiende misdaadsyfer in Suid-Afrika het ook ’n impak op vroue en hulle moet veral geleer word om hulself te verdedig. As jy jouself kan verdedig, het jy nie nodig om soos ’n slagoffer te voel nie.

Sowat 40 studente het dié klas bygewoon.

Riaan Coetzee van die maatskappy Fortis Pro Active Defence Solutions, wat die klas aangebied het, het gesê alle vroue in Suid-Afrika moet pro-aktief wees in hul benadering tot hul veiligheid. “Die misdaad in ons land is buite beheer en vroue kan nie meer onkundig wees hieroor nie.

Hy het bygevoeg dat daar drie hoofpunte is wat in gedagte gehou moet word wanneer veiligheid ter sprake is. Dit is:

  1. Jou denkwyse bepaal of jy ’n slagoffer gaan wees. Jy moet onthou jy het die reg om jouself te beskerm en te baklei.
  2. Maak seker dat jy bewus is van die moontlike gevare in jou omgewing. Wees oplettend oor mense rondom jou.
  3. Woon nou al kursusse of klasse by en moenie uitstel of wag tot iets sleg met jou gebeur het nie.

Celeste Botha, ’n onderwysstudent, het gesê dit is belangrik vir meisies om veilig te voel. “Al is ek klein, wil ek nie magteloos en bang voel om uit te gaan nie. Ek wil graag myself kan verdedig en is bly om tegnieke te kan leer wat my sal kan help.”

Soortgelyke plasings