|

AfriForum Jeug-kongres 2020: ’n nuweling se verwagtinge en ervarings

Deur Nina Breytenbach

Ek het op 23 Januarie 2020 met ’n hele paar vooropgestelde idees oor wat die AfriForum Jeug-kongres sou inhou, op O.R. Tambo-lughawe geland. My verwagtinge was min of meer dat ek soos ’n seer duim as enigste hen onder die hane sou uitstaan, daar baie politiek gepraat sou word, daar baie lesings sou wees oor die land se verswakte ekonomie en die onveilige lewensomstandighede van Suid-Afrikaanse burgers, dat daar baie braaivleis geëet sou word en dat ons in die verbygaan dalk ’n slaggat of twee sou opvul.

As dít die prentjie is wat jy van die AfriForum Jeug-kongres het, DINK WEER! Kort voor lank het ek gesien dat AfriForum en AfriForum Jeug oor net so baie dinamiese vroue as mans beskik en dat ek verniet bekommerd was dat ek, as nuweling, soos ’n seer duim sou uitstaan. Binne vyf minute het ek gevoel asof ek met ou vriende saamkuier en nêrens anders het ek meer samesyn onder ’n groep jongmense van elke hoek van Suid-Afrika gesien nie. Die naweek het afgeskop met ’n prettige kenmekaar-aktiwiteit en daarna was almal gereed om meer te leer van AfriForum Jeug se visie en missie.

Ons het oor politiek gepraat, maar nie die soort politiek waaraan Suid-Afrikaners gewoond is nie. In plaas van die gewone “verswakte ekonomie en korrupte regering”-praatjies, is daar gefokus op positiewe politiek. Dít wat ons as jongmense en landsburgers kan doen en besig is om te doen om die negatiewe te oorkom. Ek het besef dat AfriForum Jeug en AfriForum nie slaggate opvul en universiteite beveilig omdat dit hulle primêre doel is nie. Die organisasie se doelstellings word gedryf deur positiewe, dinamiese, trotse Afrikaners wat weier om hulle identiteit en menswees prys te gee. AfriForum veg vir die behoud van Afrikaans omdat dit ons taal is en ons nie gaan ophou om dit te praat nie. Ons vul slaggate op, want dan word die kans op ongelukke en motorskade verminder. Ons het buurtwagte, want ons is besorgd oor ons mense; en ons beveilig ons universiteite sodat ons jongmense hulle kultuur kan uitleef en ’n geleerdheid verwerf.

Die kongres het ook ’n hele paar spanbou-aktiwiteite ingesluit soos ’n hindernisbaan wat kreatiewe denke en baie spangees benodig het om te oorkom. Nietemin kon ons hom baasraak en dit het vriendskappe gevorm wat moeilik sal breek. Ten spyte van die naweek se reën, het die braaivleisvure elke aand gebrand. (Wees nou maar eerlik: sou ons onsself ware Afrikaners kon noem as dit nie die geval was nie?)

Verder het ons ’n reis deur die geskiedenis geneem en meer geleer van die 1914-Rebellie en die nagevolge van die Slag van Bloedrivier – wat dikwels deur die geskiedenisboeke uitgelaat word. Ons het nuwe projekte beplan en is ingelig oor bestaande projekte; ons het meer geleer van ons eie persoonlikhede en algeheel ons kulturele identiteit verryk.

Ná die 2020 AfriForum Jeug-kongres kan ek trots getuig dat ek ’n positiewer mens is. Ek is meer positief oor die land se toekoms, meer positief oor my eie toekoms in die land en algeheel van voor af trots om ’n Afrikaner te wees en my te vereenselwig met ander jongmense wat soos ek dink.

Nina Breytenbach is die sekretraris van AfriForum Jeug se Maties-tak.

Soortgelyke plasings