|

AfriForum Jeug kondig Tuks-studiebeurswenner aan

Carmi Joubert, ʼn eerstejaar- Bcom (Rek)-student aan die Universiteit van Pretoria, is vandeesweek aangewys as die finale wenner van die AfriForum Jeug-studiebeurskompetisie.

As deel van hul nasionale veldtog om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te behou, het dié jeugorganisasie vanjaar ’n kompetisie geloods waar vier studente elk ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 kan wen.

Dié beurse is onderskeidelik aan Afrikaanse studente van die Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Stellenbosch toegeken. Volgens die jeugorganisasie wil hul studente beloon wat in Afrikaans as hul moedertaal studeer en hul verder aanmoedig om hul studies in dié taal voort te sit.

Die sanggroep Adam het tydens die geleentheid opgetree en die beurs oorhandig.

Carmi het aan Forum Nuus gesê dat sy ingeskryf het omdat sy graag wil aanhou studeer in haar moedertaal.

“Ek dink daar sal altyd plek wees vir Afrikaans op universiteitskampusse, ons moet net saamstaan om te verseker dat dit ʼn realiteit is. Afrikaans moet as taal beskerm word omdat dit ʼn geliefkose en ontwikkelde taal is wat die potensiaal het om nóg verder te groei.”

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder by Tuks, moet meer gedoen word om moedertaalonderrig op universiteitskampusse te bevorder, onder meer deur die toekenning van studiebeurse.

“Die beurs- en studiefonds is gestig ten bate van Afrikaans en studente wat in dié taal wil studeer. Die fonds word onafhanklik deur Helpende Hand bestuur en sal nie aan politieke druk toegee nie,” meen Grobbelaar.

Alumni of skenkers wat tot AfriForum Jeug se studiefonds wil bydra, kan ’n e-pos aan Evalna Pieterse stuur by evalna@afriforum.co.za, of die woord “Beurs” na 32687 SMS (R1).

Soortgelyke plasings