|

AfriForum Jeug kondig Kovsie-beurswenner aan

Christine Diedericks, ʼn BA-student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is vandag aangewys as die tweede wenner in die AfriForum Jeug-studiebeurskompetisie.

As deel van hul nasionale veldtog om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te behou, het dié jeugorganisasie vanjaar ’n kompetisie geloods waar vier studente elk ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 kan wen. Volgens die jeugorganisasie wil hul studente beloon wat in Afrikaans as hul moedertaal studeer en hul verder aanmoedig om hul studies in dié taal voort te sit.

Christine het aan Forum Nuus gesê dat sy ingeskryf het vir die AfriForum Jeug-beurskompetisie omdat sy glo in die bevordering van moedertaalonderrig. “Ek en my pa is onderskeidelik lede van AfriForum en AfriForum Jeug en ek het ingeskryf omdat Afrikaans as ʼn taal baie na aan my hart lê.”

Sy sê voorts dat sy dink Afrikaans steeds ʼn plek het as ʼn onderrigtaal in Suid-Afrika en dat die bevordering daarvan meer geleenthede vir jongmense sal skep.

“Ek is so dankbaar, bly én opgewonde oor die studiebeurs. Dit sal my beslis motiveer om goed te doen in my studies.”

Volgens Ju-Mari Pretorius, kampuskoördineerder by UV, sal hierdie soort inisiatiewe nie net ʼn verskil in Afrikaanssprekende studente se lewens maak nie, maar ook ʼn verskil maak in die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans as onderrigtaal.

AfriForum Jeug het verlede week die eerste wenner by die Universiteit van Stellenbosch (US) aangekondig en sal in die komende weke nog twee wenners onderskeidelik by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom (NWU) en die Universiteit van Pretoria (UP) bekend maak.

NWU en UP-studente wat nog nie ingeskryf het nie, kan hul name en kampusnaam na 32687 SMS om ʼn kans te staan. SMS’e kos R1.

Soortgelyke plasings