|

AfriForum Jeug kondig eerste wenner van beurskompetisie by US aan

 

Annamari Booysens, ʼn onderwysstudent aan die Universiteit van Stellenbosch (US), is vandag aangewys as die eerste wenner van die AfriForum Jeug-studiebeurskompetisie.

As deel van hul nasionale veldtog om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te behou, het dié jeugorganisasie vanjaar ’n kompetisie geloods waar vier studente elk ’n studiebeurs ter waarde van R 20 000 kan wen.

Dié beurse sal onderskeidelik aan Afrikaanse studente van die universiteite van Pretoria, Noordwes (Potchefstroom), die Vrystaat en Stellenbosch toegeken word.

Annamari het aan Forum Nuus gesê dat sy verskriklik opgewonde en dankbaar is vir die studiebeurs. “Afrikaans is my taal, my kultuur, my alles. Ek glo dat dié taal altyd ʼn plek in ons land sal hê.”

Sy het gesê dit is haar droom om eendag ook in Afrikaans te kan skool gee. “Ons moet nie opgee op Afrikaans nie en ons as jongmense moet veral nie bang wees om vir ons taal op te staan nie.”

Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, het gesê die jeugorganisasie wil deur dié beurs studente beloon wat in hul moedertaal Afrikaans studeer en hul verder aanmoedig om hul studies in dié taal voort te sit.

“AfriForum Jeug het sy veldtog vir die behoud van Afrikaans op kampusse begin deur studente daarvan bewus te maak dat dit hul grondwetlike reg is om onderrig in hul moedertaal te ontvang. Studente moet die waarde daarvan besef en die vryheid hê om in Afrikaans te kan studeer,” het Mostert gesê.

Die Afrikaanse sanger Dewald Wasserfall, het vandag as deel van dié geleentheid by die US opgetree. Hy meen inisiatiewe soos hierdie is nodig om Afrikaans te bevorder.

“Dit is belangrik dat ons die jeug moet inspireer en aanmoedig om Afrikaans te koester omdat hulle die generasie is wat volgende die fakkel moet dra om die taal te laat groei.”

Hy is ook van mening dat Afrikaans altyd ʼn plek in Suid-Afrika sal hê, hetsy in die vermaaklikheidsbedryf of as onderrigtaal.

“Ek dink ons vergeet te maklik van ons geskiedenis, omdat dit nie noodwendig ʼn goeie een was nie, maar ons geskiedenis, kultuur en taal is uniek. Dít alles maak ons wie ons is.”

AfriForum Jeug wil alle ingeskrewe Afrikaanse studente aanmoedig om steeds aan die kompetisie deel te neem deur hul naam en die naam van die kampus waar hulle studeer na 32687 te SMS (R1). Die ander universiteite se wenners sal binnekort aangekondig word.

Soortgelyke plasings