AfriForum Jeug in Kempton Park loods uilhuisprojek


AfriForum Jeug se Kempton Park-tak het op 8 Maart 2019 as deel van die jeugorganisasie se 2019-projekte ’n volhoubare uilhuisprojek van stapel gestuur. Dít volg nadat die jeug die behoefte aan uilhuisies geïdentifiseer het aangesien Kempton Park ’n groot aantal uile huisves wat op die lys van bedreigde spesies verskyn.

Die projek word in samewerking met Owl Rescue Centre gedryf en AfriForum Jeug het die eerste twee huisies op die hoek van Soutpansberg- en Pretoriusstraat in Kempton Park opgerig. Hierdie huisies is sowel esteties as omgewingsvriendelik en word elk uit nagenoeg 900 plastiekbottels vervaardig.

“Die uilhuisies word uit herwinbare materiaal gemaak wat die gemeenskap aan ons skenk. Groot bome is ideaal om die gevlekte ooruil te huisves, terwyl die bekende nonnetjiesuil kleiner bome verkies. Dit is belangrik dat die huisies ten minste 100 m uitmekaar geplaas word, aangesien uile baie territoriaal is. Ons wil die gemeenskap versoek om nie rotgif naby die huisies te plaas nie omdat dit die uile direk affekteer,” sê Jan Tsoka, woordvoerder vir die Owl Rescue Centre.
“Hierdie is ’n uitstekende inisiatief om by betrokke te raak, juis omdat uile ’n bedreigde spesie is en hulle maklik in Kempton Park aard. Dit is slegs die begin van AfriForum Jeug se projekte vir 2019 en ons is baie opgewonde oor die groeipotensiaal daarvan. Ons wil die gemeenskap, maar veral die jeug, aanmoedig om by AfriForum aan te sluit en by soortgelyke projekte betrokke te raak,” sê René Reichel, voorsitter van AfriForum Jeug se Kempton Park-tak.

Dra by tot ’n skoner en veiliger dorp: SMS “Jeug” na 45342 (R1) of stuur ’n e-pos na afriforum.kemp@gmail.com.

Soortgelyke plasings