|

AfriForum Jeug herdenk herbegrafnis van 31 Boerekrygers ná ’n eeu

Op 10 Maart 1900 het 31 Boerekrygers tydens die Slag van Driefontein buite Bloemfontein gesneuwel.

Hulle is nie behoorlik begrawe nie en hul liggame is net met klippe toegepak wat daartoe gelei het dat hul beendere later in die veld gevind is. Die Theron-familie van die plaas Boschrand het die beendere later bymekaar gemaak en in ’n kis bewaar.

Op 24 Mei 1918 is die krygers op een van die klipkoppies (op die plaas Skaapplaas) herbegrawe en ’n monument is ter nagedagtenis aan hulle opgerig.

Die Volksblad het destyds berig dit was ’n stil Vrystaatse winterdag met die son wat oor die goudbruin vlaktes geskyn het. Die boere is in ’n gemeenskaplike graf begrawe wat met ysterklip uitgemessel is. Sowat 700 Afrikaners van so ver as Senekal, Winburg en uit die Transvaal het die herbegrafnis bygewoon van hulle wat gesterf het vir “vrijheid en reg”.

Senator Charlie Marais het tydens dié geleentheid gesê: “Ons word daaraan herinner dat hulle nie tevergeefs gestrij het nie. Ons vlag en vrijheid is wel begrawe. Ons is egter nog in besit van ons vaderland, van ons taal, van ons families en van verskillende regte en voorregte – en dis aan hulle te danke. Uit hierdie graf kom ’n stem: ‘Afrikaner, hou vas aan jouw grond. Ons het daarvoor gesterwe’”.

AfriForum Jeug herdenk vandag dié gebeure. “Die aksie vorm deel van AfriForum Jeug se veldtog vir erfenisbewaring. Dit is belangrik dat die jeug bewus moet wees van hul geskiedenis en erfenis en waar hulle kan, moet hulle betrokke raak om dit te bewaar en te beskerm”, sê Marike van As, opleidingskoördineerder van AfriForum Jeug.

Dr. Louis Bothma, historikus en geskiedskrywer, meen hierdie was ’n belangrike veldslag tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy verduidelik dit aan die hand van genl. De la Rey se herinneringe wat dit as “een van die merkwaardigste gevegte van die hele oorlog” beskryf het. Sowat 300 boere het vir ’n hele dag lank 3 000 Britse soldate teëgehou tot die oormag te groot geword het en hul teen laatmiddag die slagveld moes verlaat.

Soortgelyke plasings