|

AfriForum Jeug gryp in om SR-lid by Tukkies te skors

Luvuyo Menziwa, ʼn student aan die Universiteit van Pretoria (UP), is geskors uit die universiteit se studenteraad (VSR) nadat hy in ʼn inskrywing op Facebook gesê het dat hy wit mense met ’n AK-47 of ’n bazooka wil doodmaak.

Die skorsing volg nadat AfriForum Jeug se Tuks-tak vandag ʼn protesaksie op die kampus gehou het waartydens hulle geëis het dat Menziwa summier geskors word uit die SR én van die kampus af. Hul meen Menziwa se uitlatings het ʼn negatiewe invloed op studente.

Weens die druk wat AfriForum Jeug op die UP-bestuur geplaas het, het die SR omstreeks 13:00 aangekondig dat Menziwa tot Vrydag het om sy baadjie op te hang.

“AfriForum Jeug verwelkom die SR se spoedige optrede en sien uit na konsekwente optrede teen rassisme in die toekoms,” het Henrico Barnard, woordvoeder van AfriForum Jeug se Tuks-tak gesê.

Volgens Barnard het die UP-bestuur onderneem om AfriForum Jeug binne 24 uur oor Menziwa se tugverhoor en moontlike skorsing in te lig.

Die jeug-tak het ook vandag strafregtelike klagtes teen Menziwa by die Brooklyn-polisiekantoor ingedien.

Volgens Jaco Grobbelaar, kampuskoördineerder vir AfriForum Jeug se Tuks-tak, is dié voorval nie die eerste van sy soort by die UP nie.

“Hoewel AfriForum Jeug verheug is om te sien dat die universiteit vinnig opgetree het, sal ons aanhou om druk te plaas op die bestuur om te verseker dat Menziwa aanspreeklik gehou word vir sy optrede.”

Menziwa het aan Forum Nuus gesê dat hy aangespoor is om die uitlatings te maak na aanleiding van die hare-voorval waarby meisies van die Pretoria High School for Girls betrek is. Hulle het glo die skool se gedragskode oortree.

“Die hele kwessie rakende #RhodesMustFall en die geweld wat op kampusse plaasgevind het, het my nou al vir ʼn lang tyd kwaad gemaak. Die voorval by die skool was egter die keerpunt wat veroorsaak het dat ek my gevoelens op sosiale media moes deel.”

In sy inskrywing op Facebook het hy wit bevoorregting, wit dominansie, wit arrogansie, wit monopolie-kapitaal en wit superioriteit gelys as kwessies wat hom pla. Hy het ook geskryf dat daar ’n verskil tussen “wit mense” en “wittes” is.

“Volgens my is ‘wittes’ mense wat die behoefte vir menslike bewustheid raaksien, waar ‘wit mense’ konserwatief is en slegs hulle eie taal en kultuur wil bewaar,” meen Menziwa.

Hy het ook gesê hy vermoed daar is ʼn politieke agenda agter sy skorsing en dat hy moontlik daarteen sal appelleer.

Soortgelyke plasings