|

AfriForum Jeug gaan woeker in 2019

Die burgerregtewaghond AfriForum se jeugvleuel staan ywerig reg om vanjaar  met roepingsgedrewenheid te takel. Bestuurslede van verskeie AfriForum Jeug-takke het onlangs tydens ’n opleidingskamp bymekaar gekom om hul strategie vir die komende jaar, asook die aksies wat daaruit voortspruit, te bespreek.

Portefeuljeverantwoordelikhede, sosialemedia- en standpuntopleiding, asook projekbeplanning was deel van hul besige program. James Kemp, redakteur van klankkoerant en Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het ook die studente toegespreek oor aktivisme, erfenis en die geskiedenis van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het studentetakke by verskeie hoëronderwysinstellings regoor Suid-Afrika, insluitend die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van Stellenbosch (US), die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU), die Universiteit van die Vrystaat (UVS),  die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus, asook die Grootfontein Landboukollege en Sol-Tech.

Die burgerregte-organisasie se jeugstrukture het ook vanaf 2016 uitgebrei na plaaslike AfriForum-takke regoor die land. Skoolleerlinge en jong werkendes kan by een van AfriForum se sowat 125 plaaslike takke inskakel, waar plaaslike projekte rondom jeugverwante kwessies soos erfenis en veiligheid ook gedryf word.

Lidmaatskap by AfriForum Jeug is gratis en enigiemand wat met AfriForum Jeug se beleid saamstem, mag aansluit.

Besoek www.afriforumjeug.co.za of stuur ’n e-pos na afriforumjeug@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings