|

AfriForum Jeug gaan woeker in 2018

Die burgerregtewaghond AfriForum se jeugvleuel staan ywerig reg om 2018 met roepingsgedrewendheid te takel.

Bestuurslede van verskeie AfriForum Jeug-takke het onlangs tydens ’n opleidingskamp bymekaar gekom om hul strategie vir die komende jaar, asook die aksies wat daaruit voortspruit, te bespreek.

Portefeuljeverantwoordelikhede, sosialemedia- en standpuntopleiding, asook projekbeplanning was deel van hul besige program.

AfriForum Jeug het studentetakke by verskeie hoëronderwysinstellings regoor Suid-Afrika, insluitend die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van Stellenbosch (US), die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU), die Universiteit van die Vrystaat (UVS),  die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus, asook die Grootfontein Landboukollege en Sol-Tech.

Volgens Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture, gaan die jeugvleuel se kampusverenigings vanjaar op veiligheid, selfstandigheid en liefdadigheid fokus.

“Ons beplan om selfverdedigingsklasse aan te bied, projekte aan te pak wat fokus op die skoonmaak en instandhouding van omgewings en erfenisterreine, asook om liefdadigheidsprojekte in samewerking met Helpende Hand van stapel te stuur.”

Verder gaan hulle ook vir jongmense se burgerregte standpunt inneem met betrekking tot kwessies soos moedertaalonderrig, regstellende aksie en die beskerming van gesonde studentetradisies.

Die burgerregte-organisasie se jeugstrukture het ook vanaf 2016 uitgebrei na plaaslike AfriForum-takke regoor die land. Skoolleerlinge en jong werkendes kan by een van AfriForum se sowat 125 plaaslike takke inskakel, waar plaaslike projekte rondom jeugverwante kwessies soos erfenis en veiligheid ook gedryf word.

Lidmaatskap by AfriForum Jeug is gratis en enigiemand wat met AfriForum Jeug se beleid saamstem, mag aansluit.

Besoek www.afriforumjeug.co.za of stuur ’n e-pos na afriforumjeug@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings