AfriForum Jeug dien klagtes teen EFF op twee kampusse in


AfriForum Jeug het op 27 en 28 Augustus 2018 klagtes teen die EFF ingedien op sowel die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU-Pukke) as die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfonteinkampus (UV-Kovsies).
Dié klagtes handel onderskeidelik oor die EFF se uitlatings oor Afrikaans op die Puk-kampus en Sonwabile Dwaba, voorsitter van Kovsies se studenteraad (SR), se uitlating dat wit studente en hul erfenis nie meer by Kovsies welkom is nie en dat die EFF nou daardie kampus oorgeneem het.
Die EFF het ’n stalletjie by die Puk se onderwyskampus opgeslaan en plakkate met uitlatings soos “fotsek Afrikaans” en “down with institutional racism” opgesit. AfriForum Jeug se Pukke-tak het die EFF hieroor uitgevra, waarna hulle aangedui het dat die kampusstudenteraad (KSR) hulle toestemming gegee het om dié plakkate op te sit. Die betrokke KSR-lid het aan ’n lid van AfriForum Jeug gesê dat sy hou van wat die EFF doen en dat sy hulle toestemming vir die stalletjie gegee het. AfriForum Jeug se Pukke-tak het onmiddellik ’n klagte by Dalena d’ Assoville, KSR-voorsitter, gelê en reeds terugvoer van haar ontvang.

“Die EFF se optrede is teenstrydig met die huidige taalbeleid van die universiteit en dit is kommerwekkend dat hierdie tipe uitlatings al hoe meer op kampus gemaak word. Die kampusbestuur moet hierdie situasie met die nodige omsigtigheid benader en toepaslik teen die betrokke politieke party optree,” sê J.P. Nel, voorsitter van AfriForum Jeug se Pukke-tak.

Die uitlatings wat Dwaba gister gemaak het toon duidelik dat hy ’n politieke agenda het. Hierdie tipe uitlatings skep groot kommer onder wit studente op die betrokke kampus.

“Studente voel al hoe meer hoe die politieke druk op die Kovsies-kampus hulle verdryf en vervreem. Wit studente het ook ’n grondwetlike reg op tersiêre onderrig, asook die grondwetlike reg op die beskerming van hul erfenis. Dít word egter deur die SR-voorsitter geminag,” sê Chantelle du Preez, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak.

AfriForum Jeug is teen hierdie tipe uitlatings gekant en gaan die nodige prosesse volg deur klagtes by die onderskeie SR-kantore in te dien en sal die proses deurlopend moniteer.
Raak op jóú kampus betrokke: Staan hierdie tipe gedrag teen en maak ’n wesenlike verskil waar jy studeer. Skakel J.P. Nel by 072 845 7047 vir navrae oor die Puk-kampus en Chantelle du Preez by 083 294 9871 vir meer inligting oor die Kovsies-kampus.

Soortgelyke plasings