|

AfriForum Jeug bring verandering in gemeenskappe

Die burgerregtewaghond AfriForum se jeugvleuels het vanjaar met ywerigheid hul moue opgerol om ’n verskil op hul kampusse en in hul plaaslike gemeenskappe te maak.

Bloemfontein

AfriForum Jeug se Kovsies- en Bloemfontein-tak het die Rosenheim-aftreeoord in Fichardtpark besoek om Republiekdag, wat op 31 Mei plaasgevind het, saam met die bejaardes te vier. Dié jeugtakke het koeksisters en melkterte vir die bejaardes geneem en tyd saam met hulle deurgebring.

Ellisras-tak

Die jeugvleuel van AfriForum se Ellisras-tak het bejaardes by die dorp se SAVF-Maroelaoord vir Moedersdag vanjaar besoek. Jeuglede het met die vroue gesels en gekuier en hulle met ’n geskenkie bederf.

Kuruman

AfriForum se Kuruman-jeugvleuel het Die Oog in Kuruman tot sy eertydse glorie begin restoureer. Gerald Tönsing, voorsitter van dié jeugvleuel, het met hierdie ambisieuse projek begin, waartydens die fontein vervang en ligte geïnstalleer is. Die jeug het ook die bosse om die terrein verwyder en dooie en ou bome gesnoei of verwyder wat reeds omgeval het.

Helderbergkom

Die jeugvleuel van AfriForum se Helderbergkom-tak het die kinders van die Ons Plek-sentrum in die Strand, wat deur Solidariteit Helpende Hand geadministreer word, besoek. Maresa Visser, voorsitter van die jeugvleuel, het besluit om na die behoeftige kinders uit te reik deur hulle met sjokolade te bederf. ’n Teologiestudent van die Universiteit Stellenbosch (US) is ook genooi om die Christelike verhaal van Paasfees aan die kinders te vertel.

Kraaifontein

AfriForum se Kraaifontein-tak het hul plaaslike Solidariteit Helpende Hand-tak gehelp met ’n fondsinsameling vir ’n nuwe studiefonds wat vir verdienstelike kinders uit die gebied tot stand gebring word. Die Kraaifontein-gemeenskap het wors aan Helpende Hand se plaaslike Ons Winkel geskenk, wat gebruik is om worsbroodjies te verkoop.

Kempton Park

AfriForum Jeug se Kempton Park-tak het as deel van die jeugorganisasie se 2019-projekte ’n volhoubare uilhuisprojek van stapel gestuur. Dít volg nadat die jeug die behoefte aan uilhuisies geïdentifiseer het aangesien Kempton Park ’n groot aantal uile huisves wat op die lys van bedreigde spesies verskyn.

Margate

Die jeugvleuel van AfriForum se Margate-tak het ’n skoonmaakaksie gehou. Vrywilligers het douvoordag opgestaan om die strand in Margate skoon te maak en sakke vol rommel is verwyder. Na afloop hiervan het die jeug ook na inwoners van Tent City, ’n heenkome vir hawelose mense, uitgereik.

Bloemfontein

Die verskillende jeugvleuels van die verskeie AfriForum-takke in Bloemfontein het saam met AfriForum Jeug se Kovsies-tak opknappingswerk by die Bloemfonteinse Dierebeskermings­vereniging (DBV) gaan verrig.

Waverley

AfriForum se Waverley-en-Moot-jeugstruktuur het ’n skoonmaakaksie in die Waverley- en Moot-omgewing geloods. Die jeugstruktuur het met die hulp van die gemeenskap Codonialaan in Waverley (hoofsaaklik voor Checkers) skoongemaak en papiere opgetel.

Standerton

AfriForum Jeug se Standerton-tak het die Voetsporemonument, wat ongeveer 25 km buite Standerton op die Morgenzon-pad geleë is, skoongemaak en die gras gesny. Hierdie projek is reeds in 2016 in ’n langtermynprojek omskep.

Secunda

AfriForum Jeug se Secunda-tak het die verbleikte padtekens in Evander voor die Laerskool Hoëvelder oorgeverf om dit veiliger vir skoliere en padgebruikers te maak.

Stellenbosch

AfriForum Jeug se Maties-tak het besluit om aan die gemeenskap terug te gee deur die Geluksoord-tehuis vir verswakte bejaardes te besoek. Die meeste van die tehuis se pasiënte is ouer mense, maar daar is ook mense wat relatief jonk is wat op ’n vroeë ouderdom Alzheimer se siekte ontwikkel het. Daar word dikwels van hierdie groepe vergeet en daarom het die tak besluit om hier besoek af te lê.

Nasionaal

AfriForum Jeug het vroeër ’n klagte teen die studente van die EFFSC (EFF Students Command) by die Universiteit van die Vrystaat (UV) aanhangig gemaak. Dít volg nadat EFF-studente betoog en talle klasse en toetse tydens die betoging ontwrig het en sowel studente as personeel deur betogers aangerand is. ’n Dringende skrywe is aan Pura Mgolombane, dekaan van studentesake, gerig waarin versoek is dat daar onmiddellik teen die betogers opgetree word.

Soortgelyke plasings