|

AfriForum Jeug bemagtig studente by sy kampustakke

AfriForum Jeug het vandeesweek ’n suksesvolle opleidingskamp vir studente van sy kampustakke buite Bela Bela gehou.

Morné Mostert, nasionale jeug koördineerder, het gesê sowat 40 studente het die kamp bygewoon. Hulle is van verskeie kampusse soos Tukkies, Kovsies, Maties, Pukke, NWU-Vaal en Wellington.

In die drie dae is beraadslaag oor die huidige probleme by universiteitskampusse landwyd en wat AfriForum in die toekoms daaraan gaan doen.

Verskeie projekte is vir vanjaar geïdentifiseer wat onder meer sal fokus op die behoud van Afrikaans as onderrigtaal, die handhawing van gesonde studente-kultuur en -tradisies, veiligheid van studente en die versekering van gehalte-onderrig en personeel.

IMG-20160125-WA0005

Mostert het gesê die kamp is noodsaaklik om studente se politieke standpunte te verbreed en hulle te toe te rus om met groter waardigheid en kennis aan debatte en standpuntformulering te kan deelneem.

Daar is besluit om ook koshuise te betrek om AfriForum se studentestrukture uit te brei.

Hy het gesê in gevalle waar instellings reeds begin het om tradisies weg te neem, gaan AfriForum Jeug kyk hoe die aktiwiteite geprivatiseer kan word. Soos in die geval van NWU Potchefstroom is vanjaar vir die eerste keer met die sitting van Tarentaal weggedoen. Dié tradisie is al dekades in gebruik by die Puk.

Wat veiligheidsopleiding betref, gaan AfriForum teenverkragtingsopleiding vir damesstudente aanbied asook selfverdedigingsklasse. “Ons almal het verlede jaar gesien hoe vinnig geweld op kampusse kan uitbreek en studente kwesbaar laat. Dit is noodsaaklik dat hulle moet weet wat hulle moet doen om hulself te beveilig.”

Verskeie mosies is tydens die kamp aanvaar. Dit sluit in:

  • Om studente te mobiliseer.
  • Om sterk, aktiewe en betrokke AfriForum Jeug takstrukture op kampusse te vestig.
  • Om te veg dat Afrikaans as onderrigtaal op kampusse bly.
  • Om ʼn gesonde studentekultuur op kampusse te handhaaf.
  • Om koshuis- en kampus-tradisies wat weggevat is aan studente terug te gee.
  • Om aktivistiese projekte te dryf om bewusmaking onder die Afrikaner-jeug te bevorder.
  • Om politiese standpunte aan die jeug te verskaf ter beskerming van hulle erfenis en kultuur.
  • Om die jeug op te lei met die nodige onderhandelingsvaardighede.
  • Om op alle kampusse se studenterade AfriForum Jeug-verteenwoordiging te kry.
  • Om ʼn sterk en aktiewe sosiale media platform te skep waar standpunte ingeneem kan word.

 

Soortgelyke plasings