|

AfriForum is nog nie klaar met Grace Mugabe

Grace Mugabe, Zimbabwe se presidentsvrou, mag dalk vandag veilig terug op eie bodem voel, maar die stryd om haar tot verantwoording te roep, duur voort.

Dit is dié mening van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, én die burgerregte-organisasie se regspan.

Willie Spies van Hurter en Spies het gesê ’n hersieningsaansoek om die kwessie van diplomatieke immuniteit ter syde te stel gaan in die hof gebring word.

Die Suid-Afrikaanse regering het diplomatieke immuniteit aan Mugabe verleen kort nadat sy in ’n aanrandingsvoorval op ’n jong vrou, Gabriella Engels (20), in ’n hotel in Sandton betrokke was.

In regskringe is die algemene gevoel dat Mugabe glad nie vir diplomatieke immuniteit in aanmerking kon kom nie omdat sy glo in Suid-Afrika was om ’n mediese ondersoek te ondergaan. Sy was glad nie vir amptelike sake (die SAOG-beraad) in die land soos wat voorgehou word nie. En boonop kan diplomatieke immuniteit nie opgeëis word na ’n gewelddadige daad nie.

Die Mugabe-voorval het internasionaal aandag op Suid-Afrika gevestig en daar is talle vrae oor die Suid-Afrikaanse regering se hantering van die saak. Veral in die lig van die beskerming wat die regering vroeër aan Omar al-Basjir, omstrede president van Soedan, gegee het.

Die Internasionale Strafhof (ISH) in Den Haag, Nederland, het bevind dat die Suid-Afrikaanse regering sy plig jammerlik versaak het deur nie vir al-Basjir, tydens sy besoek aan Suid-Afrika in Junie 2015 te arresteer nie.

Dít en die jongste vergrype is ’n skandvlek op die land se naam en wys in die algemeen op die immorele en eensydige optrede van die regering wat ook in die Mugabe-krisis die geval blyk te wees. Die regering is vermoedelik met ’n groot toesmeerdery besig wat Grace Mugabe se immuniteit betref. Druk deur haar man, pres. Robert Mugabe, en moontlike dreigemente van SAOG-leiers om aan die afgelope beraad te onttrek, het waarskynlik die deurslag gegee vir minister Maite Nkoana-Mashabane se vinnige afkondiging van diplomatieke immuniteit in die Staatskoerant.

Benewens ’n aansoek vir die ter syde stelling van immuniteit vir Mugabe, hou adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, ook die optrede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dop. Indien die NVG nie binne 90 dae besluit om Mugabe te vervolg nie, is daar die moontlikheid van private vervolging om ’n skadevergoedingseis namens Engels teen Mugabe in te stel.

Soortgelyke plasings