|

AfriForum internskap inspireer studente om verskil te maak

Die burgerregte-organisasie AfriForum het onlangs ʼn internskapprogram vir studente van verskeie AfriForum Jeugtakke aangebied.

Dié program het 14 studente van verskillende universiteite die geleentheid gegee om aan die verskillende bedrywighede, veldtogte en aktiwiteite van dié burgerregte-organisasie blootgestel te word.

Die program is vir die eerste keer in 2014 aangebied en tydens vanjaar se internskap het studente die geleentheid gehad om onder meer vullisterreinoudits te doen, erfenisgebiede te besoek, ʼn anti-Zuma monument op te rig en ʼn takstigting by te woon.

Ander vaardighede soos debatsvoering en media-opleiding was ook deel van die 7 dag-program.

Na afloop van hul praktiese aktiwiteite het die studente verskeie probleme geïdentifiseer en moes hulle voorleggings maak en moontlike oplossings vir die probleme bied. Dié voorleggings moes in die vorm van ’n mediakonferensie aangebied word.

Volgens Marike van As, woordvoerder van AfriForum Jeug, het die internskap ten doel om ʼn verrykende ervaring te wees. “Ons wil jongmense met die nodige vaardighede toerus om ʼn daadwerklike verskil in hul gemeenskappe te maak.”

 

Soortgelyke plasings