|

AfriForum in hof om grondeienaars by te staan wie se grond onwettig beset word

 

AfriForum is vandag in die Mafikeng-hooggeregshof in Noordwes om grondeienaars in die Marikana-omgewing by te staan op wie se grond onwettige plakkers sedert Saterdag strukture begin oprig het.

Die burgerregte-organisasie gaan poog om ’n dringende uitsettingsbevel te kry.

Mnr. Dougie Lake en sy pa, Johan van der Merwe, van die Rooikoppies-plotte in die Buffelspoort-omgewing, is sedert die naweek in ’n stryd gewikkel om die polisie se hulp te kry om die onwettige besetters van hul grond te verwyder.

Lake en Van der Merwe woon in Randfontein en ry elke dag na die eiendom van hulle naby Marikana waar hulle ’n werkswinkel bedryf.

Hulle is Saterdag deur ’n werknemer wat op die plot bly, ingelig dat ’n groep mense besig is om die grond te beset. Hulle het begin om pale in te slaan en afmetings te doen. Hulle het met voertuie op die plot aangekom en van hulle het rooi T-hemde soos die van die EFF gedra.

Die eienaars het probeer om ’n klag van betreding by die polisie aanhangig te maak, wat na bewering net bereid was om ’n inskrywing in die voorvalle-boek te maak.

Hulle het ook probeer om ’n uitsettingsbevel by die landdroshof in Rustenburg te kry.

Volgens Lake is hulle sonder sukses deurentyd tussen verskillende polisielede verwys. “Ons is van bakboord na stuurboord gestuur en het die indruk gekry dat die polisie ons nie wil help nie.

“’n Mens kan nie vir ’n ander beskryf wat deur jou kop gaan as mense onwettig op jou eiendom begin aankom en sommer net begin penne inkap en sinkhuise bou nie.

“Waar is die wet en orde in die land? Hoe stop mens so iets as jy voel dat die polisie nie bereid is om jou te help nie?”

Die aanvanklike sinkhuisies het van drie Sondag na tot in die twintig vandag aangegroei.

Lake en Van der Merwe het gesê hulle voel totaal magteloos en weet nie wat hulle te doen staan as die plakkers nie summier verwyder word nie. “Hoe moet mense in hierdie land voortgaan en help om werk te skep as onregverdigheid en onwettigheid soos hierdie voorkom?”

Soortgelyke plasings