AfriForum hou skoonmaakaksie in Centurion

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 27 Julie 2018 ’n skoonmaakaksie in Kloofsig, Centurion gehou waartydens ’n voetgangerspad skoongemaak is. Dié pad lei na ’n voetgangersbrug wat Solomon Mahlanguweg kruis.
Gemeenskapslede het AfriForum in kennis gestel dat hierdie voetgangerspad nie net met onkruid en bosse toegegroei is nie, maar ook met rommel bestrooi is. Dit het dus ’n veiligheidsrisiko vir lede van die publiek ingehou wat van hierdie roete gebruik maak. AfriForum het Amandri Tuindienste aangestel om die opruimingswerk tydens hierdie aksie te behartig.

“Ons is dankbaar teenoor die gemeenskap wat ons in kennis stel van hierdie tipe probleme en ons dan weer in staat stel om oplossings daarvoor te probeer vind,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

De Klerk voeg by dat AfriForum beoog om meer soortgelyke projekte in Centurion aan te pak en versoek die gemeenskap om die organisasie in kennis te stel van leemtes of probleme wat aangepak moet word.

“Ons wil voorts ook poog om in die nabye toekoms ’n tak in Centurion-Sentraal te stig,” sluit De Klerk af.

AfriForum doen ’n beroep op die onderskeie gemeenskappe in die Tshwane-metro om by hulle naaste AfriForum-takke betrokke te raak en aktief aan die organisasie se aktiwiteite deel te neem. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings