|

AfriForum hou massaskoonmaakaksie in Tzaneen

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Tzaneen-tak het die afgelope naweek ʼn massaskoonmaakprojek by ʼn strook van die Tzaneendam aangepak.

Die Tzaneendam is geleë in die Groot Letabarivier in Limpopo en lewer besproeiingswater aan die Letabavallei.

Dié skoonmaakprojek het onder meer die verwydering van vullis en onwettige visvangnette uit die dam, die skoonmaak van die ontspanningsterrein, asook patrollering van die omliggende gebied deur plaaslike sekuriteit ingesluit.

Volgens Pieter Venter, voorsitter van die Tzaneen-tak, het AfriForum besluit om die skoonmaakaksie te loods nadat plaaslike inwoners gekla het oor die toestand van die dam en omliggende gebied. “Dit het onder ons aandag gekom dat daar onwettige visvangnette in die dam gespan is en dat die dam erg besoedel is.”

Hy het aan Forum Nuus gesê dat ʼn groot deel van die gemeenskap ingegryp het, onder andere AfriForum-taklede en hul gesinne, lede van AfriForum Jeug asook verskeie vrywilligers, om die dag ʼn sukses te maak. “Ons sal wil bou op hierdie skoonmaakprojek en dit in die toekoms uitbrei tot ʼn volhoubare inisiatief,” meen hy.

“Die dag was ʼn groot sukses gewees en dit was lekker om te sien hoe die gemeenskap bymekaarkom en ʼn wesenlike verskil in hulle omgewing maak,” sê Lizandra Viviers, sekretaresse en projekkoördineerder van die Tzaneen-tak.

Soortgelyke plasings