AfriForum hou gemeenskaps- en takstigtingsvergadering in Kroonstad


AfriForum het op 24 April 2019 ’n gemeenskaps- en takstigtingsvergadering in Kroonstad gehou. Die gemeenskap het AfriForum genader om ’n tak te stig nadat ’n behoefte vir ’n AfriForum-tak in dié dorp ontstaan het. Altesaam 85 lede van die gemeenskap het hierdie vergadering bygewoon waaruit die bestuur van die Kroonstad-tak gekies is.

Dié nuutgestigte tak is reeds besig met die beplanning van aksies wat hulle in die nabye toekoms gaan uitvoer. Hulle het ook die gemeenskap versoek om by die tak betrokke te raak en aan die aksies om die dorp op te hef, deel te neem.
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, was die gasspreker tydens die vergadering.

“AfriForum het ’n tak in Kroonstad gestig omdat ons besef daar is baie probleme in die dorp en dat die gemeenskap graag hierdie probleme uit die weg wil ruim. Die nuwe takbestuur wil graag saam met die gemeenskap werk om volhoubare selfdoenprojekte te loods. As Kroonstad as gemeenskap saam hande vat en die uitdagings in die dorp aanpak, sal hulle ’n beter omgewing vir almal skep,” sê Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.

Die bestuur is soos volg: Gabrie Grobler (voorsitter), Karen Coetzee (ondervoorsitter), Bianca Keeve (tesourier), Ronel du Plessis (sekretaris), Johan Kruger (addisionele lid) en Danie van Zyl (jeugvleuelvoorsitter).
AfriForum se Kroonstad-tak nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by toekomstige projekte en aksies. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Kroonstad” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings