AfriForum hoop internasionale strafhof se verdoemende uitspraak sal Suid-Afrika moreel wakker skud


Die Internasionale Strafhof (ISH) in Den Haag, Nederland, het vandag bevind dat die Suid-Afrikaanse regering sy plig in terme van dié hof en internasionale wetgewing jammerlik versaak het deur nie vir Omar al-Basjir, die omstrede Soedannese president, tydens sy besoek aan Suid-Afrika in Junie 2015 te arresteer nie. In reaksie op dié bevinding, het AfriForum die hoop uitgespreek dat die regering sal besef dat dit nie eensydig en immoreel kan optree nie, maar aan internasionale wetgewing en verpligtinge onderhewig is.
Die uitspraak volg nadat verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering vanjaar op 7 April aan die ISH moes verduidelik waarom hulle nie vir Al-Basjir gearresteer het nie. Die lasbrief vir sy arrestasie hou onder meer verband met oorlogsmisdade en volksmoord in Darfoer, waarvan Al-Basjir volgens die Statuut van Rome beskuldig word. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van dié statuut.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, is die ISH se uitspraak ’n sterk morele oordeel oor die huidige regering se arrogante en eensydige optrede die afgelope twee dekades in die openbare arena. Dit beklemtoon die belaglikheid van die regering se verskonings dat Al-Basjir deur diplomatieke immuniteit van arrestasie gevrywaar is en dat die regering se verpligtinge om hom in terme van die Statuut van Rome te arresteer, onduidelik was.
Hoewel geen materiële strafmaatreëls op Suid-Afrika van toepassing sal wees nie, is hierdie uitspraak ’n verdoemende oordeel oor die regering se mislukking in terme van sy etiese verpligtinge teenoor slagoffers van oorlogsmisdade en growwe menseregteskendings.
Die feit dat plaaslike howe ook bevind het dat die regering nie sy verpligtinge in hierdie verband nagekom het nie, plaas Suid-Afrika in ’n nog skerper lig van kritiek wat sy internasionale beleid en sy houding jeens menseregte aanbetref. Die feit dat afgevaardigdes tydens die ANC se nasionale beleidskonferensie van die afgelope week opnuut die regering aangemoedig het om aan die ISH te onttrek, dui op die morele bankrotskap van die party.
Die regering se reaksie op die uitspraak en toekomstige stappe om met die onttrekking voort te gaan, al dan nie, sal meer lig op die toekomstige reputasie van die regering en die ANC werp.

“Die ideaal is dat die uitspraak ’n keerpunt vir die regering sal wees om in die toekoms meer eties op te tree, maar gemeet aan vorige gebeure, is AfriForum helaas nie optimisties dat dit die geval sal wees nie,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings