| | |

AfriForum hof toe oor Dlamini-Zuma se irrasionele kwarantynregulasies

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 15 Mei 2020 ’n dringende aansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, se drakoniese regulasies ongeldig te laat verklaar. Dié regulasies is daarop gemik om almal wat positief toets vir COVID-19 onder verpligte staatskwarantyn te plaas.

AfriForum se aansoek berus op die feit dat dié regulasies volgens die organisasie ongrondwetlik, onwettig en irrasioneel is. Die regulasies bepaal onder meer dat almal wat positief toets vir COVID-19 – ongeag of hulle simptome toon – binnekort in die regering se isolasiefasiliteite geplaas sal word.

“Dié regulasies gee aan die staat die mag om mense sonder hul toestemming in kwarantyn te dwing – selfs in omstandighede waar die persoon in staat is om doeltreffend te selfisoleer. Dit gee aan wetstoepassers en die staat té veel mag onder die vaandel van die bekamping van die verspreiding van die virus,” sê Monique Taute, bestuurder van Veldtogte by AfriForum.

In sy aansoek voer AfriForum aan dit sal irrasioneel wees om mense in staatskwarantyn te plaas as dié mense doeltreffend kan selfisoleer. Dit plaas ’n onnodige las op die reeds beperkte staatshulpbronne en kan daartoe lei dat mense bloot weier om getoets te word uit vrees vir verpligte staatskwarantyn.

Indien mense wat positief vir die virus toets en doeltreffend kan selfisoleer in staatsfasiliteite gedwing word, is dit nie net ’n skending van dié mense se fundamentele regte nie, maar dit kan in die toekoms verreikende gevolge inhou vir die regte van almal in die land. Verder het die Zithabiseni-kwarantynkamp en die regering se optrede in dié kwessie duidelik bewys hulle beskik nie oor die vermoë om sulke kampe verantwoordelik te bestuur nie. Meer as ’n honderd mense is in haglike omstandighede by Zithabiseni aangehou ten spyte daarvan dat hulle nie eens vir COVID-19 getoets is nie. Boonop het die regering gesê hulle kan nie die mense self toets nie, maar aangehoudenes is verbied om deur privaat mediese dienste getoets te word. AfriForum het onlangs ’n hofsaak gewen waarin die hof beslis het die Zithabeseni-kwarantynkamp moet sluit en die aangehoudenes vrygelaat moet word.

“Wanneer die staat eenmaal inbreuk maak op mense se mees basiese regte van menswaardigheid, vryheid van beweging en sekerheid van persoon, word dit in die toekoms al hoe makliker om sulke skendings te regverdig. Selfs die Verenigde Nasies (VN) het onlangs sy kommer uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse regering se toksiese inperkingsregulasies. AfriForum veg met hierdie hofsaak en met ons internasionale veldtog (wat ’n klag by die VN insluit) vir die behoud van die fundamentele regte van elkeen in die land,” sluit Taute af.

 

Soortgelyke plasings