|

AfriForum hof toe om NVG te dwing om Malema te vervolg

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag aangekondig dat ’n mandamus-aansoek op die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) en die minister van justisie beteken is om die NVG deur die hof te dwing om ’n besluit te neem oor die vervolging van EFF-leier Julius Malema.

Dié vervolging hou verband met die On-Point Engineering-skandaal waar Malema by beweerde korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery betrek word. Malema se familietrust het ’n belang by On Point gehad wat aangestel was om die departement van paaie en vervoer in Limpopo in 2009 met infrastruktuurontwikkeling, -onderhoud en beplanning te ondersteun.

Die mandamus-aansoek volg nadat die NVG vir langer as ’n jaar versuim het om sy ondernemings aan AfriForum na te kom en ’n besluit oor Malema se vervolging te neem.

“Dit is vir ons uiters teleurstellend en frustrerend dat ons hof toe moet gaan om die NVG te dwing om net hul werk te doen. Dit is die NVG se plig om te verseker dat die saak teen Malema weer op die rol geplaas word.

“Die feite rondom hierdie saak het nie verander nie, maar die politieke landskap wel. Ons wil nie die NVG in ’n verleentheid stel nie, maar ons billike versoeke, skrywes, opvolgnavrae en waarskuwings het geen betekenisvolle reaksie van die NVG ontlok nie,” meen Nel. Die saak sloer sedert 2011 toe AfriForum ’n klag teen Malema by die polisie ingedien het.

Die datum wat die mandamus-aansoek aangehoor sal word, is 20 Julie 2020. “Dit is ook vir ons problematies dat dit so lank moet neem om ’n saak van dié aard op die rol geplaas te kry. Deur die saak oor meer as agt maande aan te hoor, verydel die hof die doel van ’n mandamus-aansoek, aangesien ons hiermee bloot die NVG wil verplig om ’n besluit oor die vervolging van Malema te neem. Dít is ’n besluit wat reeds lank agterstallig is en dit laat vrae ontstaan oor die NVG se onwilligheid om daadwerklik teen Malema op te tree,” sê Nel.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie is wel bly dat die NVG besluit het om Malema in twee ander sake te vervolg. Die een is die aanrandingsaak op ’n senior polisiebeampte en die ander die afvuur van ’n vuurwapen tydens ’n saamtrek van EFF-ondersteuners. Hy sal op 20 November in die Randburgse landdroshof op die eerste klag verskyn en vermoedelik op 27 November op die tweede klag in die Mdantsane-landdroshof in die Oos-Kaap.

Nel het ook aangekondig dat sy eenheid ’n nolle prosequi-sertifikaat bekom het om Tom Moyane, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), privaat te vervolg.

Die klaer in die saak is Lerato Maila, die ma van Moyane se kleinkind. Die klagtes teen hom is aanranding met die opset om ernstig te beseer, asook saakbeskadiging.

Volgens Maila het Moyane haar in Mei 2018 by sy huis in Roodepoort, Gauteng, aangerand deur haar op haar maag te krap, rond te stamp en in die gesig te skop. Moyane het ook haar selfoon voor die beweerde aanranding teen ’n muur stukkend gegooi toe hy besef dat sy besig is om hom op te neem. Sy het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak, maar die NVG het egter besluit om Moyane nié te vervolg nie, omdat daar volgens die NVG nie genoeg bewyse teen hom is nie.

“Gesien in die lig van die vlaag geweld teen vroue en kinders in die land is hierdie ’n baie belangrike saak waarby AfriForum se privaatvervolgingseenheid moet betrokke raak. Sulke beweerde gedrag is aanduidend van ’n boelie en Moyane moet eenvoudig daarvoor verantwoording doen,” sê Nel.

Oor voortgesette optrede om Malema en Moyane te vervolg, sê Kriel daar mag nie toegelaat word dat sommige mense dink en glo hulle is bo die wet verhewe nie. “Mense wat die wet oortree, moet vervolg word. Al voel dit of die wiele van geregtigheid stadig draai, moet ons voortgaan en verseker dat oortreders verantwoordelik gehou word.”

Soortgelyke plasings