| |

AfriForum hét hofstukke ingedien; Toerismeminister verkondig fopnuus

AfriForum het sy teleurstelling uitgespreek oor die feit dat Mmamoloko Kubayi-Ngubane, Minister van Toerisme, fopnuus verkondig deur valslik aan te voer dat AfriForum nie gister hofstukke ingedien het om haar en haar Departement se gebruik van ras as maatstaf in COVID-19-hulprogramme te beveg nie. AfriForum het wel die regsproses begin en ’n gestempelde kennisgewing van die mosie word as bewys by hierdie mediaverklaring aangeheg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die Minister óf moedswillig óf daar is ’n ernstige gebrek aan kommunikasie tussen haar en die staatsprokureur aan wie die saaknommer van AfriForum se geding gestuur is. “In die lig daarvan dat die Minister en haar Departement se misbruik van die COVID-19-krisis om die ANC se rasse-agenda te bevorder, onverdedigbaar is, is dit nie verbasend dat sy haar nou wend tot vals tegniese argumente nie. Die Minister stel ook ’n slegte voorbeeld om in ’n krisistyd, waar fopnuus oor COVID-19 verbode is, haarself skuldig te maak aan die verspreiding daarvan.”

AfriForum moedig alle toerisme-ondernemings aan om steeds by www.tourism.gov.za/Pages/COVID19TOURISMRELIEFFUND.aspx om verligting aansoek te doen. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het en ons namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word. Jy kan ook ’n e-pos met jou onderneming se besonderhede na afriforum@afriforum.co.za stuur.

  • Lees AfriForum se mediaverklaring oor die betekening van die hofstukke hier.

Soortgelyke plasings