|

AfriForum herdenk Wêreldvleilanddag met skoonmaak-aksie

Meer as 50% van Suid-Afrika se vleilande is reeds vernietig of toon agteruitgang. Ons as mense is verantwoordelik om ons vleilande te bewaar en sodoende te verseker dat ons noodsaaklike ekostelsels optimaal funksioneer.

Só meen Lambert de Klerk, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake.

Die burgerregte-organisasie het as deel van Wêreldvleilanddag onlangs die vleiland in die Moreletaspruit-natuurreservaat skoongemaak. Die onlangse swaar reënbuie het hope vullis in die stormwaterkanale afgespoel, wat deur die spruit tot in die vleiland gevoer is.

Sowat tien sakke vullis is tydens die aksie opgetel.

“Vleilande is van kardinale belang omdat dit soos natuurlike damme funksioneer. Tydens swaar reën en donderstorms absorbeer vleilande die water en stel dit dan weer deur die loop van die jaar stadig vry. Sonder vleilande spoel dié afloopwater dus onmiddellik weg en gaan verlore. Vleilande beskik ook oor die vermoë om die hewigheid van vloede en droogtes deur die regulering van stroomvloei te verminder,” meen de Klerk.

Wêreldvleilanddag word sedert 1997 gevier om die sluit van die Ramsar Konvensie te herdenk.

Dié ooreenkoms het ten doel om die behoud en oordeelkundige gebruik van vleie, mere, riviermondings, moerasse, strandgebiede en koraalriwwe deur middel van plaaslike en internasionale samewerking en optrede te verseker.

Lidlande moet onderneem om gebiede te identifiseer wat van internasionale belang is, veral wat betref die woonplek van watervoëls. Hierdie sensitiewe gebiede moet dan beskerm word teen besoedeling, die bou van paaie, brûe, damme, asook gronderosie en die onoordeelkundige gebruik van die gebiede vir ontspanningsdoeleindes soos swem en visvang.

In 2018 het reeds 170 lande die Ramsar-verdrag onderskryf.

Die Verenigde Koninkryk het die meeste Ramsar-gebiede, naamlik 170. Bolivië is die land met die grootste oppervlakte in verklaarde vleilande, naamlik 1,4 miljoen hektaar.

In Suid-Afrika is daar 23 sulke gebiede wat ‘n totale oppervlakte van  557 000 hektaar beslaan.

Gauteng

Blesbokspruit

KwaZulu-Natal

iSimangaliso-vleilandpark (voorheen bekend as die St. Luciameer)

Kosibaai

Ndumo-natuurreservaat

Ntsikeni-natuurreservaat

Sibayameer

uKhahlamba-Drakensbergpark

uMgenivlei-natuurreservaat

Waterskilpadstrande/koraalriwwe van Tongaland (nou deel van die iSimangaliso-vleilandpark)

Limpopo

Makuleke

Nylsvley-natuurreservaat

Mpumalanga

Verlorenvallei-natuurreservaat

Wes-Kaap

Botriviervlei

De Hoop-natuurreservaat

Die Mond-natuurreservaat

Valsbaai-natuurreservaat

Langebaan-strandmeer

Prins Eduard-eilande

Verlorevlei

Die Vleie

Noord-Kaap

Oranjeriviermond

Noordwes

Barberspan

Vrystaat

Seekoeivlei-natuurreservaat

Soortgelyke plasings