|

AfriForum herbelyn sy bestuurstrukture op groeipad na 300 000 lede

AfriForum het besluit om sy bestuurstrukture funksioneel te herbelyn om aan die eise te voldoen wat dié organisasie se sterk groei stel. AfriForum se ledetal het pas die 226 000-kerf verbygesteek, en boonop het dié organisasie se aktiwiteite, projekte en aantal vrywilligers oor die afgelope jare tienvoudig toegeneem.

In die snelveranderende Suid-Afrikaanse sosiopolitieke omgewing kan AfriForum se sukses oor die afgelope dekade onder meer toegeskryf word aan AfriForum se vermoë om besluite vinnig te kan neem en doeltreffend te kan uitvoer. AfriForum se aansienlike groei vereis dat dié organisasie deurlopend moet herbesin oor wyses waarop hierdie doeltreffende optrede ’n kerneienskap van dié burgerregteorganisasie kan bly.

In lyn met die nuutste internasionale beste praktyke vir organisasies wat doeltreffend binne snelveranderende omstandighede moet funksioneer, het AfriForum besluit om dié organisasie se bestuurstrukture funksioneel – eerder as suiwer hiërargies – te benader. Hierdie funksionele samestelling sal dit vir AfriForum moontlik maak om uitdagings veerkragtig in spanverband te kan aanpak. AfriForum se middelvlakbestuur het ook opleiding ontvang om hulle te bemagtig om besluitnemingsmag in hul onderskeie verantwoordelikheidsvelde uit te brei.

Om die funksionele herbelyning van AfriForum se bestuurstrukture suksesvol te implementeer, word dié organisasie se huidige uitvoerende komitee (UK) met twee kleiner funksionele strukture vervang: ’n operasionele bestuur en ’n beleidsforum, wat onderskeidelik getaak sal wees om operasionele en beleidsbesluite te neem. As deel van die funksionele karakter wat dié bestuurstrukture aanneem, het AfriForum se UK-lede besluit om weg te doen met hul bestaande posbenamings – adjunk- uitvoerende hoofde en bestuurshoof – en dit te vervang met posbenamings wat funksioneel beskrywend is. Dié verandering in posbenamings wysig nie die bestuurslede se bestaande posvlakke nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal op sowel die operasionele bestuur as beleidsforum dien. Die ander lede van dié twee nuwe bestuurstrukture en hul nuwe posbenamings is soos volg:

Operasionele bestuur
Nic Arnold            Hoof: Strukture en veiligheid
William Waugh    Hoof: Organisasiebou

Beleidsforum
Alana Bailey       Hoof: Kultuursake
Ernst Roets        Hoof: Beleid en aksie
Barend Uys        Hoof: Navorsing en ontwikkeling

Benewens dié strukture is ’n  hoofde-, bestuurs- en personeelforum ook tot stand gebring om interne kommunikasie en organisasiebelyning te verbeter.

AfriForum se netwerk van 135 plaaslike takke, 140 buurtwagte en meer as 9 500 vrywilligers – die kernrolspelers en AfriForum se kontakpunte op gemeenskapsvlak – sal steeds as ’n  integrale deel van AfriForum se span funksioneer, onder meer met AfriForum se nasionale kongres, streeksberade, provinsiale konferensies, tak- en jeugvergaderings, en gemeenskapsprojekte en -aksies op grondvlak.

Soortgelyke plasings