|

AfriForum help SAPD met inligting rondom hantering van grondgrype

Grondgrype het sedert die begin van die jaar beduidend toegeneem met sowat 60 gevalle in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.

Die burgerregte-waghond AfriForum het onlangs ’n projek van stapel gestuur om soveel polisiestasies as moontlik in dié provinsies te besoek en gidse te oorhandig wat die prosedure vir die polisie se hantering van grondgrype duidelik uiteensit.

Dit blyk dat die SAPD gereeld versuim om hul grondwetlike plig en verantwoordelikhede na te kom – veral wat grondgrype betref. Dít het tot gevolg dat eienaars van eiendom waarop grondgrype plaasvind hul hand diep in die sak moet steek om die hof te nader om dié grondgrype te keer.

Ondanks ’n direktief en nasionale instruksie oor die hantering van grondgrype wat die SAPD aan alle polisiestasies uitgereik het, gehoorsaam sommige polisiestasies steeds nie dié direktief en instruksie nie. AfriForum moet gereeld ingryp en druk tot op nasionale vlak toepas om die SAPD tot optrede te dwing.

“AfriForum sal aanhou om druk op die owerhede toe te pas om te verseker dat hulle hul grondwetlike pligte nakom. Ons sal streng teen polisiestasies optree wat nie hul pligte nakom nie,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, sê AfriForum het reeds met regsaksie teen polisiestasies begin wat weens hul versuim om betyds en korrek op te tree, veroorsaak het dat onskuldige eienaars groot finansiële verliese moes ly. “Grondeienaars moes reusebedrae bymekaarskraap om die hof te nader en van privaat sekuriteitsmaatskappye gebruik maak om hul eiendom van grondgrypers te red.”

In die skrywe, wat aan tientalle polisiestasies oorhandig is, meld AfriForum dat die organisasie ’n goeie en produktiewe verhouding met die meeste polisiestasies regoor die land het. AfriForum se buurtwagte roem hul ook daarop dat hulle die oë en ore van die polisie in gemeenskappe is en alles moontlik doen om misdaad binne die raamwerk van die wet te beveg.

AfriForum verduidelik voorts dat dokumente wat aan die polisie uitgereik is, dit duidelik maak dat ’n persoon in beheer of ’n grondeienaar onmiddellik ’n saak by die naaste polisie moet open wanneer onwettige betreding plaasvind.

Daarna moet die polisie die saak ondersoek, oortreders omtrent die oortreding inlig en hulle versoek om die perseel of terrein te verlaat. Indien betreders versuim om gehoor te gee, moet hulle gearresteer word ten einde verdere oortredings te voorkom.

In gevalle waar oortreders reeds strukture opgerig het, moet ’n hofbevel deur die eienaar of persoon in beheer van die eiendom verkry word.

“Dit is daarom van uiterste belang dat die polisie so spoedig moontlik moet optree wanneer ’n klag by hulle ingedien word om sodoende ook te voorkom dat oortreders voortgaan om onwettige strukture op te rig. Indien die polisie versuim om hul plig na te kom, kan hulle vir kostes van die eienaar of die verantwoordelike persoon verantwoordelik gehou word,” lui die dokument.

Skrywes om die polisie te help om hul pligte uit te voer, is ingedien by:

  • Twintig polisiestasies in die Pretoria-omgewing, wat Akasia, Boschkop, Bronkhorstspruit, Brooklyn, Cullinan, Ekangala, Erasmia, Garsfontein, Hammanskraal, Hercules, Lyttelton, Moot, Pretoria-Noord, Pretoria-Sentraal, Pretoria-Wes, Silverton, Sinoville, Sunnyside, Villieria en Wierdabrug insluit;
  • Sewe polisiestasies in die Oos-Rand naamlik Alberton, Benoni, Boksburg, Brakpan, Edenvale, Germiston en Springs;
  • Twee polisiestasies in die Fochville-omgewing;
  • Tien polisiestasies in Limpopo naamlik Bulgrivier, Cumberland, Dwaalboom, Ellisras, Hoopdal, Matlabas, Modjadjiskloof, Nylstroom, Phalaborwa en Warmbad;
  • Altesame 26 polisiestasies in Mpumalanga wat Barberton, Bethal, Breyten, Carolina, Charl Cilliers, Davel, Delmas, Dullstroom, Eloff, Embalenhle, Emzinoni, Ermelo, Hendrina, Kriel, Leandra, Lydenburg, Machadodorp, Middelburg, Morgenzon, Nelspruit, Piet Retief, Secunda, Standerton, Trichardt en Witrivier insluit; en
  • Vier polisiestasies in die Wes-Rand en Vaaldriehoek wat Randfontein, Roodepoort, Vanderbijlpark en Westonaria insluit.

Soortgelyke plasings