|

AfriForum help Meyiwa-gesin omdat alle vermoordes geregtigheid verdien

 

AfriForum het by die moordsaak van Senzo Meyiwa, ontslape voormalige kaptein van die Bafana Bafana-sokkerspan, betrokke geraak omdat dit in belang van alle slagoffers van misdaad en moorde is dat geregtigheid geskied.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die familie van Meyiwa het AfriForum genader nadat daar ná vyf jaar nog geen vordering met die saak gemaak is nie. Senzo is in 2014 op 27-jarige ouderdom in ’n huis in Vosloorus aan die Oos-Rand doodgeskiet.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sal namens die Meyiwa-familie optree en help om Senzo se moord te ondersoek en op te los.

Volgens Kriel is dit nie AfriForum se doel om self te vervolg nie, maar om die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) by te staan sodat iemand vervolg kan word. “Ons kan nie waarborg dat ons die saak kan oplos nie, maar ons gaan ons bes doen. AfriForum het van die beste ondersoekers tot sy beskikking en ons gaan die familie hierin bystaan. As die NVG nie vervolg nie, sal ons toetree.”

Kriel het daarop gewys dat 22 021 mense verlede jaar vermoor is. “Daar is geregtigheid vir minder as 20% van mense wat vermoor word. Ons almal verdien beter. Daar moet geregtigheid wees vir diegene wat vermoor word en hul gesinne moet afsluiting kan kry.”

Kriel sê voorts dit is miskien tyd dat die strafregstelsel in die land in die verleentheid gestel word om hulle te dwing om hul werk behoorlik te doen.

Sifiso Meyiwa, broer van die vermoorde Senzo, meen dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners bymekaarkom as een. “Ek is trots om met AfriForum geassosieer te word. Hulle is bereid om ons te help. Ek gee nie om oor enige mense in hoë posisies in die regering of oor korruptes nie. Ek sal aanhou baklei dat geregtigheid vir my broer geskied.”

Sifiso het bedenkinge oor waarom daar van ondersoekbeamptes ontslae geraak is wat aangedui het dat hulle op die punt is om arrestasies te maak. Hy wil ook weet waarom die NVG nou in die media sê dat getuies wat ondervra is, na bewering leuens vertel het.

Adv. Elijah Mamabolo, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gekap na mense wat wanpersepsies oor AfriForum het. “AfriForum moet beoordeel word op die goeie werk wat die organisasie doen. Mense met selektiewe denke oor AfriForum moet ophou daarmee.”

Mamabolo het ’n beroep op vredeliewende mense gedoen om saam te werk om die saak op te los en met inligting na vore te kom indien hulle enige het. Mense met inligting kan ’n e-pos stuur na onsvervolg@afriforum.co.za.

 

Soortgelyke plasings