|

AfriForum help aanrandingslagoffer met privaat vervolging

Die burgerregte-organisasie AfriForum het pas aangekondig dat hulle die seun van die wêreldberoemde menseregte-advokaat, George Bizos, privaat gaan vervolg.

Dit volg nadat Alexis Bizos sy vrou, Monique van Oosterhout, in Maart 2015 aangerand en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om hom te vervolg.

AfriForum sal privaat vervolging instel namens Van Oosterhout wat só ernstig deur Bizos aangerand is dat sy ses gebreekte ribbes opgedoen het.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê AfriForum glo in gelykheid voor die reg.

“Geweld teen vroue is ’n ernstige probleem in die Suid-Afrikaanse samelewing en almal, burgerregte-organisasies ingesluit, het ’n plig om toe te sien dat vergrype soos dié nie onder die mat ingevee word nie.”

Volgens Kriel wil dit voorkom asof die NVG besluit het om nie teen Bizos op te tree nie op grond van sy van en familieverbintenisse.

Hy het ook gewys op die trauma waardeur slagoffers van geweld en aanranding gaan en dat hulle as’t ware weer deur tweedehandse viktimisering gaan wanneer hulle die klagtes onder die polisie en NVG se aandag bring. “Slagoffers ervaar dikwels die afwesigheid van empatie op ’n tyd wat hulle op hul kwesbaarste is.”

Benewens die sekondêre viktimisering wat daarmee gepaard gegaan het om die saak by die polisie aan te meld, kon Van Oosterhout ná verskeie interaksies met die NVG nie daarin slaag om die NVG sover te kry om Bizos te vervolg nie. Boonop het die dossier in die saak ook verlore geraak.

ʼn Nolli prosequi-sertifikaat is daarna op 11 September 2015 deur die NVG uitgereik. Die sertifikaat het egter verval en volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, gaan daar vir die heruitreiking van dié sertifikaat aansoek gedoen word.

Hy meen daar is geen rede waarom die NVG die aansoek behoort te weier nie op grond van die omstandigheidsfaktore in die saak. Wanneer AfriForum die sertifikaat kry, sal Bizos vervolg word vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Van Oosterhout was 23 jaar met Bizos getroud en is in die proses om van hom te skei. Om haar kanse op sukses in dié saak te verseker, het Nel versoek dat die media nie persoonlike vrae aan haar stel nie.

Nel het ook op die kwesbaarheid en hulpkrete van slagoffers gewys en gesê hulle voel dikwels dat die wette wat hulle moet beskerm, hulle in die steek laat.

Kriel het ook verwys na die aanstelling van die omstrede minister Bathabile Dlamini as minister in die presidensie belas met vroue. Hy meen sy is totaal onbevoeg en is in dié posisie aangestel nadat sy die voormalige adjunkminister van hoër onderwys, Mduduzi Manana, beskerm het nadat hy vroue aangerand en skuldig bevind is.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om sy veldtog #stopgeweldteenvroue te ondersteun en so ook dié burgerregtewaghond se privaat vervolgingseenheid te versterk: https://www.stopkorrupsie.co.za/ons-veg-terug/

Soortgelyke plasings