|

AfriForum gryp in by bejaardes se haglike omstandighede

Tientalle bejaardes van die Tweedy Park-woonstelblok in Brakpan verkeer in nood en is in haglike omstandighede omdat die Ekurhuleni metroraad versuim om die hysbak, wat reeds drie maande buite werking is, te herstel.

Die woonstelblok, wat op die terrein van die Frank Mynhardt Tehuis vir Bejaardes is, het twee hysbakke wat buite werking is. Die een is vir goedere en die ander vir die 112 inwoners. Die goedere-hysbak werk al vier jaar lank nie.

Inwoners met erge gesondheidsprobleme het aan Forum Nuus vertel hoe onmoontlik dit vir hulle is om hul woonstelle wat op die 7 de en 8 ste vloer is te verlaat.

Mev. SW Schoonveldt het gesê: “Ek is 18 uur van die dag op suurstof. Ek kan nie die tenk op en af dra nie, want dit is te swaar. Die ander suurstofmasjien werk met elektrisiteit. Ek bly maar meeste van die tyd op die 7 de vloer omdat ek nie asem het om op te gaan as ek onder is nie.”

Mnr. Chris Vlok sukkel ook as hy die trappe op en af moet gebruik. “Ek moet gereeld vir 3 of 5 minute stop. Ek het in Januarie my heup gebreek en sukkel om te loop.”

Nog ’n inwoner wat longprobleme het en anoniem wil bly, het aan Coco Brooks, ’n familielid van een van die inwoners, gesê dit gaan baie moeilik sonder ’n werkende hysbak. Sien video:

Sy het vertel hoe daar onlangs gesukkel is om siek bejaardes uit die woonstelle te verwyder. In een geval is die brandweer en ambulans laat kom om ’n bejaarde te verwyder. Sy is ’n paar uur later dood. In ’n ander geval kon die lyk van ’n inwoner nie met die hysbak na onder gebring word nie, en is sy net in ’n kombers toegedraai en met die trappe afgedra.

Chris Fourie, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid, het gesê dit is skokkend en tragies dat bejaardes en pensionarisse onder sulke moeilike omstandighede moet leef. “Die metroraad kom nie sy grondwetlike en menslike plig teenoor hulle na nie.”

AfriForum het die metroraad op terme geplaas en gee hulle sewe dae tyd om die hysbak te herstel. Indien dit nie gebeur nie sal gekyk word of daar gronde vir strafregtelike vervolging is. AfriForum sal ook ’n kontrakteur vir die herstelwerk aanstel en die koste van die metroraad verhaal as hulle nie optree nie.

Fourie het gesê daar is aanduidings dat die een hysbak langer as drie maande gelede laas versien nie. Volgens ’n inspeksieboek wat by die woonstelle ingevul moet word as daar aan die hysbak gewerk word, was die laaste inskrywing op 21 Oktober 1993.

Die moeilike omstandighede waaronder die inwoners verkeer, het ook daartoe gelei dat Solidariteit Helpende Hand ingegryp het.

Marlien van der Westhuizen, woordvoerder van Helpende Hand, het gesê die organisasie het ’n tuisgenoot aangewys om inwoners by te staan. ’n Tuisgenoot help voorsien in hul voedselbehoeftes en maak seker dat hulle die nodige mediese sorg kry.

Sien Video:

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings