|

AfriForum groet Nelspruit ná suksesvolle Ankerdorppadskou

Die plaaslike AfriForum-tak het vandeesmaand moue opgerol en saam met taklede en vrywilligers verskeie projekte aangepak om die dorp te verbeter én in die proses hoop te skep.

Die padskou het afgeskop met veiligheidsoudits by skole in Nelspruit om die veiligheid van onderwysers en leerders te verseker en om seker te maak dat skole ontruimingsprosedures en noodplanne in plek het. ’n Terreininspeksie word ook tydens die oudit gedoen om swakpunte op die terrein aan die skoolbestuur uit te wys.

Die tak het ook in samewerking met verskeie plaaslike besighede ’n selfdoenaksie by die Pro Gratia-leersentrum vir leerders met spesiale onderrigbehoeftes gehou. Die jeugvleuel van die tak het die houtklaskamers met vernis behandel terwyl daar ook in die skool se tuine gewerskaf is. Die voorbrandbane om die skool is ook tydens die aksie skoon gesny en Mbombela Air Conditioning het tydens die aksie hand bygesit en die lugversorgers van die skool kosteloos herstel.

Dié skool ontvang geen subsidie van die staat nie en is afhanklik van beperkte skoolfondse en die hulp van organisasies soos AfriForum en die plaaslike gemeenskap.

Die buurtwagte in Nelspruit en Witrivier, asook die Nelspruit Concerned Citizens-inisiatief, het ook gesamentlike buurtwagpatrollies gehou waartydens patrollielede by verskeie noodgevalle hulp verleen het. Hierdie inisiatief sal regdeur die maand plaasvind en daar sal dié naweek tydens die Innibos-fees gereeld gepatrolleer word om feesgangers se veiligheid te verseker.

Daar is ook verskeie skoonmaakaksies gehou soos langs die R40-hoofweg. Vullis is op die skouer van die pad en langs die pad verwyder. Tydens dié aksie is daar gevind dat meer vullisdromme langs dié roete benodig word en AfriForum sal binnekort nog dromme beskikbaar stel.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het ook sy Quo Vadis-gesprekreeks in dié dorp aangebied, waar die kernfokus op die toekoms van Suid-Afrikaanse onderwys geval het.

In Juliemaand gaan inwoners en AfriForum-lede in Tzaneen skouer aan die wiel sit om ’n verskil in dié dorp te maak. Vir meer inligting besoek www.ankerdorp.co.za

Soortgelyke plasings