|

AfriForum groei in 13 jaar tot 212 000 lede

Die burgerregtewaghond AfriForum het oor ’n tydperk van 13 jaar tot 212 000 lede gegroei.

William Waugh, adjunk- uitvoerende hoof van operasionele sake by AfriForum, het tydens die organisasie se nasionale kongres ’n oorsig gegee oor waar die organisasie begin het en wat die planne vir die toekoms is.

Vanaf 2015 het dit om verskeie redes moeiliker geword om nuwe lede by te kry. AfriForum het bepaalde strategieë wat hy volg ten opsigte van ledewerwing en ledebehoud. Een van die uitdagings vir die toekoms is om jongmense betrokke te kry. AfriForum se lede verteenwoordig tans 60% vroue en 40% mans. Altesame 66% van lede is tussen 40 en 70 jaar oud. Wat geografiese verspreiding betref, is 52% lede in Gauteng en die Wes-Kaap.

Waugh het daarop gewys dat AfriForum nie soos enige ander organisasie in die land is nie. ’n Bepaalde kommunikasiestrategie word gevolg, ook wat lede betref.

Verder fokus AfriForum op goed deurdagte planne, goeie finansiële begrotings, strukturele en datastelsels, innoverende denke, roepingsgedrewe personeel en vrywilligers waarsonder die organisasie nie so sterk sou wees nie.

Hy het ook na die talle vennootskappe en samewerkingsooreenkomste verwys wat AfriForum met ander instansies en organisasies het. “Ons weet niks gebeur sonder harde werk nie. Wanneer mense my vra wat AfriForum bied, is my antwoord: Toekomsversekering.”

Talle projekte en veldtogte fokus op taal, plaasmoorde, plaaslike regeringsake, veiligheid, kultuur en identiteit en geskiedenis en erfenis en geregtigheid.

 

Soortgelyke plasings