AfriForum gereed vir regstryd om godsdiens in skole te hou


“AfriForum se regspan is gereed vir deelname as vriend van die hof aan die regsaak om die beoefening van godsdiens in skole te beskerm.” Dit was die reaksie van dié burgerregte-organisasie nadat dit aan die lig gekom het dat die saak waarin ses skole oor hulle godsdiensbeleid deur die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie voor die hof gedaag is, vir 15 tot 17 Mei 2017 op die Suid-Gautengse hoë hof se rol geplaas is.


Antichristelike fundamentaliste het al in Oktober 2009 gedreig dat skole met ’n Christelike etos voor die hof gedaag sal word. Tóé reeds het AfriForum sterk standpunt daarteen ingeneem en gesê dat die organisasie skole teen sulke regsaksies sal ondersteun.
In 2014 het die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie ses skole, naamlik Laerskool Randhart, Laerskool Baanbreker, Laerskool Garsfontein, Hoërskool Linden, Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium voor die hof gedaag vanweë hulle Christelike godsdiensbeleid. Die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (FEDSAS) verteenwoordig hierdie ses skole in die saak, met AfriForum wat as vriend van die hof by die saak betrokke is en die skole met regskoste steun.
In 2015 het AfriForum ’n veldtog geloods vir die behoud van godsdiens in skole en ter ondersteuning en bewusmaking vir hierdie hofsaak. Ds. Henk Stavast en Derick Francis het 6 000 km per fiets regoor die land afgelê as deel van dié geldinsamelingsveldtog om geld in te samel vir die saak, maar ook om mense in te lig oor die situasie en die negatiewe gevolge wat mag volg indien godsdiens uit skole geneem sal word. Hykie Berg, AfriForum en Laerskool Jacobsdal het ook ’n staptoer in die Drakensberge vir dieselfde rede onderneem.
Die ondersteuning vir die projekte was uiters positief en het opnuut bewys hoe belangrik godsdiens oor die algemeen en Christenskap in besonder in skole, vir die skole, leerlinge en ouers is.

Soortgelyke plasings