AfriForum gereed om Jiba privaat te vervolg


Volgens AfriForum bied vandag se uitspraak in die Hoogste Hof van Appèl wat die bevinding omkeer dat Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwerbi van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) van die rol van advokate geskrap moet word, geen struikelblok vir die beweerde strafregtelike klagtes teen Jiba nie.

“AfriForum gaan volstoom voort met die proses om Jiba privaat te vervolg. Die NVG het nou geen rede om nié ’n besluit te neem oor AfriForum se aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat nie,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

AfriForum het vroeër vanjaar aangekondig dat die burgerregteorganisasie privaat vervolging teen Jiba gaan instel.

“Dit is nou meer noodsaaklik as ooit dat Jiba strafregtelik vervolg word. Die NVG se antwoord op ons versoek vir ’n nolle prosequi-sertifikaat was dat hulle ’n besluit sal maak hangende die uitspraak van vandag se appèlproses. Die NVG het nou geen verdere verskonings om hul besluit rakende die herinstelling van Jiba se vervolging bekend te maak nie. Indien die NVG besluit om nié te vervolg nie staan AfriForum se privaat vervolgingseenheid gereed om haar privaat te vervolg,” sê Taute.

Soortgelyke plasings