| |

AfriForum Gemeenskapsveiligheid rig noordstreek se nuwe beheerkamer in

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het in samewerking met GAC Security op 4 Oktober 2019 ’n projek van stapel gestuur om ’n nuwe beheerkamer in die noordstreek in te rig wat in Apiesrivier in Pretoria geleë is. Dié beheerkamer stel AfriForum se buurtwagte in die noordstreek in staat om beter ondersteuning aan hul gemeenskappe te bied. GAC Security dek die kostes wat aanvanklik nodig is om die beheerkamer in te rig.

Die nuwe beheerkamer sal AfriForum-buurtwagte in die noordstreek ook help om hul kommunikasie en insameling van inligting te verbeter sodat hulle suksesvol met die SAPD en ander instansies kan koördineer en proaktief in noodgevalle kan optree. Dit help ook met die insameling van misdaadstatistiek sodat misdaad proaktief bekamp en misdaadvoorkomingsaksies daarvolgens beplan kan word. AfriForum beplan om die befondsing van die beheerkamer in Februarie 2020 verder uit te brei.

“Samewerking tussen verskillende instansies lei daartoe dat ons meer kapasiteit skep om ’n verskil te maak. Deur proaktiewe maatreëls in plek te hê, help ons om ons gemeenskappe te beveilig,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

“AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan vir die noordstreek is ook tans besig om aan ander projekte te werk om verdere kapasiteit in die streek te skep. Dít sal fokus op die verbetering van administrasiekapasiteit, lugvermoë, asook operasionele en inligtingsvermoë sodat AfriForum se buurtwagte daadwerklik tot proaktiewe gemeenskapsveiligheid kan bydra. AfriForum nooi enige instansie of sakeonderneming uit om by hierdie inisiatiewe betrokke te raak,” sluit Coetzer af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam en van na 45353 (R1) en word deel van die verskil.

Soortgelyke plasings