|

AfriForum gee regspan opdrag om teen Eskom op te tree

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Eskom kan moontlik in die hof koppe stamp oor die inwerkingstelling van bykomende beurtkrag weens die Ramotshere Moiloa Plaaslike Munisipaliteit se agterstallige rekening.

Die kragvoorsiener pas tans nie net landwye beurtkrag toe nie, maar het ook reeds van 30 Julie 2020 tot 6 Augustus 2020 bykomende beurtkrag in die Zeerust-gebied inwerking gestel. Dit het die gebied vir ongeveer ses ure daagliks sonder krag gelaat. Die krag is weer aangesit nadat ’n gedeelte van die skuld aan Eskom betaal is. Eskom is egter van plan om weer van 1 September kragonderbrekings van agt ure per dag in die dorp toe te pas omdat die uitstaande skuld nie betaal is nie en die munisipaliteit geen betalingsooreenkoms met hulle getref het nie.

In baie gevalle betaal verbruikers hul elektrisiteitsrekeninge getrou aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om dit aan Eskom oor te betaal. AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die howe te nader vir ’n bevel om dié besluit te hersien indien Eskom nie hierdie wanpraktyk staak nie.

Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, sê die kragonderbrekings veroorsaak groot probleme in Zeerust, veral omdat talle huishoudings en ondernemings ook nie water het tydens die onderbrekings nie. Verder skep dit ook ’n beduidende veiligheidsrisiko omdat veiligheidstoestelle soos elektriese heinings nie tydens kragonderbrekings werk nie.

“Eskom kan nie agter ’n kontraktuele remedie skuil en ’n onbillike proses volg deur hul besluit om bykomende beurtkrag toe te pas nie. Eskom neem dié besluit – wat grootskaalse skade aan gemeenskappe aanrig – in die afwesigheid van enige openbaredeelnameproses. Die besluit is beslis ongrondwetlik en voldoen nie eens aan die standaarde van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake.

Dit is vreemd dat Eskom hierdie klousule oral in werking stel waar munisipaliteite reeds agterstallig is. “Dit blyk dat Eskom hierdie klousule gebruik om druk op munisipaliteite te plaas om hul agterstallige skuld te betaal. Daar is ’n reeks ander remedies beskikbaar wat Eskom kan gebruik, maar Eskom verkies om die een te gebruik wat die meeste skade berokken,” sê Mostert.

AfriForum wil graag ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Word deel van die oplossing: SMS “Krag” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings