|

AfriForum gee raad oor chaotiese aanlynregistrasieproses vir Gautengse skole

135233733

Alet Rademeyer

’n Dag nadat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, die provinsie se aanlynregistrasieproses vir 2017 vir gr. 1- en gr.8-leerlinge met groot fanfare aangekondig het, het die proses in duie gestort.

Die toelatingsproses was veronderstel om gister (11 April) te begin en 7 September te eindig.

Volgens Oupa Bodiba, onderwyswoordvoerder, het die aansoekproses weens “tegniese probleme” gister ontspoor. Dit was veronderstel om vanoggend weer op dreef te wees, maar dit was nie.

Lesufi het die proses vroeër aangekondig in die hoop dat dit moet help met die plasingsproses wat die afgelope jare aan talle probleme gekenmerk is en daartoe gelei het dat duisende kinders nie plek in skole kry nie. In sommige kringe word dit ook beskryf as ’n doelbewuste poging deur Lesufi om beheer oor die plasingsproses te kry en aan skole voor te skryf wie toegelaat mag word en hoeveel leerlinge in skole geakkommodeer moet word.

Tientalle ouers was gister woedend toe die stelsel net 1 000 aansoeke kon hanteer. Die stelsel kon nie die druk hanteer nie nadat sowat 600 ouers per sekonde in ’n stadium op die webwerf geklik het.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê die burgerregte-organisasie meen skole en beheerliggame moet self die registrasieproses bestuur. “Die stelsel wat in duie gestort het, het tot gevolg dat talle ouers nie hul kinders aanlyn kan inskryf en registreer nie.

“Die platform is ’n poging van die departement om in te meng in ouers se vrye keuse oor waar hulle hul kinders wil inskryf. Die huidige probleme veroorsaak wantroue in die proses.”

Volgens Bloem het talle skole in April reeds hul opedae gehou waartydens hulle leerlinge begin inskryf het. “AfriForum wil antwoorde van die departement hê oor wat nou met dié registrasie-aansoeke gaan gebeur.

“Ons gaan die saak ondersoek en sal regstappe neem as dit nodig is. Ons gaan ook ’n brief aan die departement skryf om antwoorde rakende die werking van die aanlynregistrasieproses te kry. As leerlinge se reg om in hul moedertaal skool te gaan en ouers se besluit oor hul kinders se onderrig, ondermyn word, sal ons hulle bystaan.”

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê die organisasie het tegniese  kundigheid tot die departement se beskikking gestel om met die aanlynproses te help. “Al ons voorstelle is egter van die tafel gevee.”

Volgens Colditz is Fedsas nie teen ’n tegnologiese proses gekant nie aangesien dit in elk geval die toekoms is. “Die probleem is ons het verlede jaar reeds gesien dat dit op ’n gemors gaan uitloop. Daar moes eers ’n behoorlike proeflopie gewees het om te verseker alles is behoorlik in plek.”

Hy het gesê Fedsas het ’n probleem met die feit dat Lesufi die proses wil dryf, terwyl dit eintlik die bevoegdheid van die provinsiale onderwyshoof is. Dit is ook ironies dat die voorskrifte van die onderwyshoof oor hoe die inskrywingsproses moet plaasvind nie na die enkele aanlynproses verwys het nie.

Fedsas se raad aan skole en ouers is om voort te gaan met die papiergedrewe toelatings- en registrasie-proses en om rekord van elke probleem en klagte te hou. “Die hele stelsel is onder verdenking en ons sal moet sien hoe dit nou uitspeel.”

Tans kry ouers wat aanlyn aansoek doen ’n W-nommer wat aandui hoe laat en wanneer hul aansoek geregistreer is.

Volgens die departement se webtuiste begin die toelatingsperiode op 11 April en eindig dit op 7 September. Dit vind in drie fases plaas:

  1. Ouers registreer aanlyn en verifieer leerlinge se inligting vanaf 11 April. Tydens die proses moet dokumente soos afskrifte van die ouer se identiteitsdokument, geboortesertifikaat van die kind, paspoort of studiepermit vir buitelanders van die departement van binnelandse sake en bewys van werk- of woonadres ook ingedien word.
  2. Die aansoekproses begin op 19 April tot 1 Junie.
  3. Die plasingsproses begin op 24 Junie tot 7 September.

Die webadres waarby aanlyn aansoek gedoen word, is www.gdeadmissions.gov.za

 

Ouers wat nie aanlyn kan aansoek doen of internet-toegang het nie, moet die departement kontak by 0800-000-789.

 

Soortgelyke plasings