|

AfriForum gaan vir Lise Brink hardloop

Verskeie werknemers van AfriForum gaan op Saterdag 4 Maart as die Soolklappers aan die Hardloop vir Lise-veldtog deelneem om geld vir ’n prostese vir haar in te samel.

Lise, vrou van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, se linkerbeen is vroeër geamputeer nadat sy en haar gesin op 16 Desember in ’n tragiese ongeluk buite Theunissen in die Vrystaat was.

Die Brink-egpaar het ook twee van hul kinders in die ongeluk verloor.

Danie is ’n entoesiastiese padwedloop-deelnemer en hy het kort na die ongeluk sy hartswens uitgespreek dat Lise voldoende sal herstel om in die toekoms saam met hom padwedlope aan te pak.

Lise was die afgelope naweek vir die eerste keer tuis saam met haar gesin.

Sy word tans by die Muelmed-rehabilitasiesentrum in Pretoria behandel. Die eerste voorbereidings word nou getref om haar geamputeerde been so dun moontlik te vorm sodat dit die passing van ’n kunsbeen sal vergemaklik wanneer sy sterk genoeg is.

’n Prostese vir Lise en verdere behandeling sal na verwagting sowat R480 000 kos. Die Hardloop vir Lise-veldtog is deur personeel van die  Solidariteit-instansies geïnisieer.

Die fondse vir Lise sal tydens die Medihelp Sunrise Monster ingesamel word. Daar is ’n 5 km, 10 km en 32 km-wedloop wat deelnemers kan stap of hardloop. Deelnemers kan as ’n “champion” aan die veldtog deelneem en sal daarmee saam ’n Hardloop vir Lise-hemp kry. Mense wat net gaan draf of stap om die veldtog te ondersteun, sal heliumballonne kry met ’n boodskap wat aan Danie en Lise se heining vasgebind sal word. Die roete van die wedloop loop by hul huis in Groenkloof verby.

Riaan Jacobs, opleidingskoördineerder by AfriForum, wat deel van die Soolklappers gaan wees, het gesê almal is geruk deur die gebeure wat die Brink-gesin se lewens onherroeplik verander het. “Ons kan ons nie indink waardeur hulle die afgelope tyd is nie. Ons as kollegas en werknemers in die beweging is soos ’n gesin en in tye soos hierdie wil ons ook vir mekaar daar wees.

“Ons by die burgerregte-organisasie hoop om ten minste R100 000 vir Lise in te samel.”

Om die Soolklappers te ondersteun, gaan na: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/soolklappers-hardloopvirlise

Soortgelyke plasings