| | |

AfriForum gaan nou ook Departement van Kleinsakeontwikkeling in hof pak oor ras

AfriForum het sy regspan vandag opdrag gegee om ook ’n dringende hersieningsaansoek, soortgelyk aan dié van AfriForum en Solidariteit se saak teen die Departement van Toerisme, in te dien teen die Minister en die Departement van Kleinsakeontwikkeling oor die gebruik van SEB-rasvereistes in hulpverlening aan ondernemings wat weens die COVID-19-pandemie om verligting by die regering aansoek doen. AfriForum se voorgenome regsaksie volg nadat Minister Khumbudzo Ntshavheni gister tydens ’n parlementêre vergadering gesê het SEB-vereistes sal wel van toepassing wees wanneer aansoeke oorweeg word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beskuldig Ntshavheni daarvan dat sy oneerlik was deur op 24 Maart AfriForum se stelling dat haar Departement van rassekriteria gebruik gaan maak in die toekenning van hulp, as “fopnuus” af te maak en nou, net meer as ’n maand later, trots verkondig dat rassekriteria wel ’n rol gaan speel. “Asof dit nie oneties genoeg is dat die regering selfs in krisistye ’n rasse-agenda bevorder nie, word die situasie vererger deur die Minister se doelbewuste wanvoorstellings.”

Die Minister se oneerlikheid word volgens Kriel vererger deurdat haar Departement selfs bereid was om in hofstukke wat onder eed geteken is, teenoor Solidariteit te onderneem om nie voort te gaan met die gebruik van rassekriteria wanneer hulp aan ondernemings toegeken word nie.

Volgens Kriel het die Minister se leuens wel AfriForum se regsoptrede teen haar Departement vertraag, maar sal sy dit nie kan ontduik nie. “AfriForum sal hierdie saak tot in die hoogste hof beveg om geregtigheid te verseker.”

AfriForum moedig alle KMMO’s wat nie aan hierdie vereiste voldoen nie, aan om die organisasie te kontak om namens hulle hierteen te veg. AfriForum raai ondernemings aan om op www.smmesa.gov.za te registreer. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het. AfriForum sal binnekort meer inligting oor hierdie veldtog op sy sosialemediaplatforms beskikbaar maak.

Soortgelyke plasings