|

AfriForum gaan na parlement om wysiging van Grondwet teen te staan

AfriForum gaan eerskomende Dinsdag ’n voorlegging by die parlement se grondwetlike hersieningskomitee indien wat vroeër die mandaat gegee is om te ondersoek of die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Die burgerregte-organisasie wat meer as 200 000 Suid-Afrikaners verteenwoordig, se fokus is op die beskerming van minderheidsregte. Die organisasie beklemtoon die beginsel van privaat eiendomsreg asook artikel 25 van die Grondwet wat dit beskerm.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wat die skriftelike voorleggings gaan indien, sê die organisasie doen dit omdat daar belangrike inligting is waarvan die hersieningskomitee kennis moet neem. AfriForum is ook teen die wysiging van die Grondwet gekant wat onteiening sonder vergoeding sal moontlik maak.

AfriForum het ook ’n versoekskrif-veldtog geloods wat deur duisende ondersteuners onderteken is. Dit sal ook by die parlement ingedien word.

Intussen doen AfriForum ’n dringende beroep op lede van die publiek om voor 15 Junie hul insette teen onteiening sonder vergoeding in te stuur. Dit kan gedoen word deur https://afriforum.co.za/onteiening/ te besoek.

Die organisasie gaan voorts versoek om ’n spreekbeurt in die Nasionale Vergadering te kry om sy standpunt en bekommernis rondom die omstrede kwessie te stel.

AfriForum is sedert die mosie ten gunste van onteiening sonder vergoeder aanvaar is, met uitgebreide veldtogte en aksies besig om die regering tot ander insigte te probeer bring. Van die veldtogte sluit ’n versoekskrif en internasionale besoeke aan die VSA, Europa en Australië in om invloedryke mengingsvormers, navorsingsinstellings en die media bewus te maak van wat die ANC met onteiening beoog.

AfriForum het ook ’n verskerpte fokus op die uitbreiding van sy veiligheidstrukture geplaas. Sedert die ANC hierdie mosie by sy kongres in Desember aanvaar het, was ’n duidelike toename in plaasaanvalle sigbaar. Sedert die mosie in die parlement aanvaar is, was daar ook ’n duidelike toename in onwettige grondgrype.

AfriForum het ook begin om ’n dokumentêre film oor grondhervorming te maak.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is van mening dat elke moontlike geleentheid benut moet word om die regering te keer om met onteiening sonder vergoeding voort te gaan.

Die komitee moet teen 31 Augustus terugvoer gee oor sy ondersoek na die moontlike wysiging van die Grondwet.

Soortgelyke plasings