|

AfriForum gaan munisipaliteite pak wat miljarde aan onbevoegde amptenare bestee

munisipaliteit

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan binne enkele weke begin om munisipaliteite te dwing om die kwalifikasies van hulle senior bestuur bekend te maak.

Dit kom in die lig van skokkende syfers wat daarop dui dat salarisse en ander personeelkoste van 2011 tot 2015 met tot R22 miljard by munisipaliteite toegeneem het.

In 2014 het munisipaliteite R264 miljard aan personeeluitgawes bestee teenoor verlede jaar se R285 miljard.

Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslike regering, sê AfriForum gaan munisipaliteite dwing om die kwalifikasies van senior bestuur bekend te maak sodat van onbekwame amptenary ontslae geraak kan word en dienslewering in die proses verbeter kan word.

Dit stem ooreen met Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se nasionale plan (Back 2 Basics) wat ook daarop gemik is om dienslewering op te skerp.

Volgens Pawson is dit dringend noodsaaklik dat munisipaliteite minder aan personeel en meer aan instandhouding en herstelwerk moet begin bestee. Op die oomblik bestee munisipaliteite 5% van hul begroting aan instandhouding en herstel en byna 26% aan salarisse. Die nasionale norm is dat munisipaliteite sowat 8% van hul begroting aan instandhouding en herstel moet bestee.

Pawson meen daar is ’n direkte verband tussen die ouditeur-generaal (OG) se bevindings oor swak bestuur van munisipaliteite en die hoë aantal ongekwalifiseerde en onbevoegde amptenare in diens.

Gebrekkige dienslewering veroorsaak nie net groot frustrasie in gemeenskappe nie, maar lei ook tot gewelddadig opstande en betogings, sê Pawson.

Hy het gesê AfriForum gaan deur ʼn PAIA-proses die nodige inligting oor amptenare se kwalifikasies bekom. Die munisipaliteite waarop gefokus gaan word, is die 38% wat die OG aangedui het die swakste presteer en wat gekwalifiseerde oudits gekry het.

 

Die departement het verlede jaar Oktober sy regulasies inwerking gestel wat die minimum kwalifikasiesvereistes neerlê waaraan senior amptenare moet voldoen. AfriForum sal deur sy projek ongekwalifiseerde amptenare uit die stelsel laat verwyder.

“Ons sien dat baie munisipaliteite nie organogramme in plek het nie en gevolglik is daar te veel senior personeel en te min tegniese en ondersteunende personeel. Daar word te veel bestee aan salarisse en weens onbekwame amptenare is ʼn verdere R9 miljard verlede jaar aan konsultante bestee,” sê Pawson.

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen transformasie, en nie dienslewering nie, het die mikpunt van plaaslike owerhede geword.

Hy meen hoewel rasgebaseerde transformasieteikens wel bereik is, is die koste hiervan die ondergrawing van munisipale diensleweringsvermoë. Swak finansiële bestuur en groter lading op infrastruktuur (weens die drastiese wysiging in die geografiese samestelling van munisipaliteite), het volgens hom uitgeloop op ʼn ineenstorting van munisipale dienste.

“Die regstellendeaksieaanstellings het daartoe gelei dat onbekwame amptenare aangestel is. Dít, tesame met swak finansiële bestuur het daartoe gelei dat die bestuur van plaaslike owerhede in duie begin stort het.”

Om AfriForum te help om munisipaliteite tot verantwoording te roep, SMS jou dorp se naam na  45354 (R1/SMS).

 

 

Soortgelyke plasings