|

AfriForum gaan Minister van Justisie dwing om op te tree in Botswana-saak

AfriForum het vandag aangekondig dat die privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, ’n mandamus-aansoek teen onder andere Ronald Lamola, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, gebring het om dié Departement te dwing om die wedersydse regshulp te fasiliteer in die geldwassery-en-bedrogsaak waarby die sakevrou Bridgette Motsepe-Radebe, skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa en vrou van Jeff Radebe, geïmpliseer word.

AfriForum het in Junie vanjaar aangekondig dat adv. Nel en adv. Phyllis Vorster van die privaatvervolgingseenheid amptelik deur die Botswana-regering aangestel is om hulle in hierdie saak te verteenwoordig. AfriForum se mandaat in hierdie saak is om die Botswana-regering se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer in die saak van die Bank van Botswana wat handel oor bedrog en geldwassery. Dít volg nadat adv. Stephen Tiroyakgosi, Botswana se Direkteur van Openbare Vervolging, reeds op 25 September 2019 ’n versoek vir wedersydse regshulp aan die Suid-Afrikaanse regering gerig het, maar hierdie versoek het na bewering gerieflikheidshalwe verdwyn. ’n Nuwe versoek is voorberei, maar die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerkende Regering (DIRCO) weier egter om hierdie aansoek te aanvaar aangesien hulle “in lyn met COVID-19-regulasies” geen dokumente aanvaar nie.

“Die Departement van Justisie se versuim om te reageer op die versoek vir wedersydse regshulp van ’n buurland met betrekking tot beweerde korrupsie is heeltemal teenstrydig met die uitlatings van Minister Lamola en die regering in die media dat hulle ernstig daaroor is om diegene wat hulself skuldig maak aan korrupsie, aan te vat. Dit ontlok ’n nadelige afleiding dat pres. Ramaphosa vir Lamola aangestel het as voorsitter van ’n interministeriële komitee om korrupsie te ondersoek en dui verder daarop dat die regering se sogenaamde geveg teen korrupsie bloot lippetaal is. Die enigste afleiding wat gemaak kan word is dat slegs hooggeplaaste individue met politieke konneksies oorgesien sal word vir korrupsie,” sê adv. Nel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ook terugvoer gegee oor twee ander internasionale sake waarin die Direkteur-generaal van Justisie se daadwerklike optrede versoek is, maar geen terugvoer nog ontvang is nie:

Karegeya

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in September 2019 lasbriewe bekom vir die arrestasie van twee van die vier vermeende moordenaars van kol. Patrick Karegeya, voormalige intelligensiehoof van Rwanda. Die NVG het op daardie stadium aangedui dat hulle in proses is om aansoek te doen vir die uitlewering van Ismael Gafaranga en Alex Sugira.

Dít volg nadat adv. Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid die Karegeya-familie bygestaan het in die informele geregtelike ondersoek na die dood van Karegeya. Die Randburgse landdroshof het in April 2019 die saak terugverwys na die NVG om te besluit of hulle die verantwoordelike verdagtes, soos beslis in die hof se bevinding, gaan vervolg.

Die privaatvervolgingseenheid het op 10 Julie 2020 ’n skrywe gerig aan adv. Jacob Skosana, Direkteur-generaal (DG) van die Departement van Justisie waarin versoek is dat die DG bevestig of daar al met die uitleweringsproses begin is, asook watter stappe gedoen is om die uitlewering te verseker. AfriForum het ook afskrifte van die “rooi kennisgewing” versoek waarvoor die NVG by Interpol moes aansoek doen.

Grace Mugabe

Die NVG het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in April 2019 ingelig dat hulle besluit het om aansoek te doen om Grace Mugabe aan Suid-Afrika uit te lewer. Grace Mugabe het in 2017 vir Gabriella Engels, ’n Johannesburgse model, met ’n elektriese verlengingskoord aangerand en ernstig beseer.

Die NVG het die privaatvervolgingseenheid op 2 Junie 2020 in kennis gestel dat die versoek vir die uitlewering van die beskuldigde na die Departement van Justisie verwys is vir bevestiging en versending na die Zimbabwiese regering in Julie 2019.

AfriForum het hier ook versoek dat die DG die vertraging verduidelik, asook die stappe bekend maak wat die Departement gevolg het om die uitlewering te bewerkstellig. Tot op hede is daar nog geen terugvoer vanaf die DG ontvang nie.

Soortgelyke plasings